’n Ma-en-seun-duo van die Paarl is onlangs as die wenners in ’n My ma kook beter as joune-episode op kykNET gekroon.
Murchel Francke en haar 16-jarige seun, Murcal, het vir die kookkompetisie ingeskryf toe ’n vriend van haar dit voorgestel het.
“ ’n Vriend van my, sjef Mynhardt, het voorgestel dat ons vir die kookprogram-kompetisie inskryf. Ons het eers lank hieroor gedink voordat ons die volgende stap geneem het,” vertel Murchel.
“Ons het ’n video ingestuur waar ons van onsself vertel en is toe ingeroep vir ’n onderhoud. En op 1 Maart was ons voor die kameras vir die verfilming van die kompetisie.”
Die twee erken albei dat hulle vooraf ’n bietjie senuweeagtig was.
“Jy weet nie wat jy kook tot tien minute voordat dit jou beurt is nie. En hulle gee ook vir jou die resep – jy moet dit bestudeer en memoriseer, want dan vat hulle dit voor die kompetisie weg.”
In die vertoning moet die ma’s op die kantlyn staan en aan hul kinders verduidelik wat om met die bestanddele te doen. Hulle word nie toegelaat om hul kinders fisiek te help nie. Elke gereg moet ook binne ’n sekere tydraamwerk voltooi word.
Murchel en Murcal het ’n resep vir skaaptjops, aartappels en rys gekry.
“Ek was senuweeagtig omdat ek nie geweet het wat ek gaan maak nie. Maar sodra die timer begin het, het ek ontspanne gevoel, veral met my ma wat my gelei het. Op die ou end was ek tevrede met die kos wat ek voorberei het,” vertel Murcal.
Hulle albei vertel dat hulle baie senuweeagtig tydens die beoordeling was.
“Terwyl die kos beoordeel word, moet die deelnemers buite wag. Dit was ’n senutergende 20 minute of wat. En toe ons as die wenners aangekondig is, was ons natuurlik baie in ons skik.”
Hiermee het hulle prysgeld van R10 000 gewen, en Murcal weet reeds wat hy met hierdie meevallertjie gaan doen.
Albei van hulle stem ook saam dat hulle gewis weer vir ’n kookprogram sal inskryf.
“Ek is super trots op hom,” sê Murchel, ’n trotse en liefdevolle ma.
“Selfs as ons nie gewen het nie, sou ek steeds trots gewees het op hom vir die manier waarop hy die druk in die kombuis hanteer het. Dit was alles in ag geneem ’n heerlike dag. Dit was ’n plesier om met die gasheer, Early B, te kommunikeer – hy is ’n regte mense-mens en maak tyd vir almal op stel.”
Toe die episode ’n paar weke gelede die lig gesien het, het Murchel en Murcal hul familie en vriende genooi en ’n kykpartytjie gehou.
Dié ma en seun is ook nie net ’n gedugte span op die kookprogram nie. Hulle is ook lief om tuis te kook en te bak.
Murchel het verlief geraak op kosmaak terwyl sy op hoërskool was toe sy nie ’n keuse gehad het as om vir haar hele gesin te kook toe haar ma lank in die hospitaal was nie.
Murcal is dol daaroor om eerder skeppend soeter goed in die kombuis te maak en sal sy ma en pa gereeld met gebak bederf – veral op ’n Sondagaand.





