‘n Lykswa het Saterdagoggend uitgebrand onderweg na ‘n begrafnis in die Paarl.
Die voorval het omstreeks 08:15 plaasgevind in Broadwaystraat, Charleston Hill. Die lykswa wat aan Willy’s Begrafnisdienste behoort was met ‘n lykskis daarin onderweg na ‘n begrafnis in die gebied toe die voertuig aan die brand geslaan het.
Die bestuurder het inderhaas stilgehou en uitgespring. Die voertuig is ten volle uitgebrand maar die kis en oorskot daarin is behoue gebly.
Willy’s Begrafnisdienste het kort na die voorval ‘n verklaring op hul webtuiste uitgereik waarin hulle die voorval bevestig het.
“Die lykswa is totaal verwoes in die voorval. Ons kan voorts bevestig dat die oorskot van die oorledene ongedeerd was gedurende die insident en dat die familie steeds die geleentheid gebied was om die liggaam te besigtig om dit te bevestig. “