’n Skoonmaker by die skool New Orleans Sekondêr het op ’n skokkende vonds in een van die skool se badkamers afgekom.
Sy het oudergewoonte skoongemaak toe sy op die lyk van ’n pasgebore baba afgekom het. Dit is onduidelik tot hoe ver die baba in die baarmoeder ontwikkel het.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het die ontdekking bevestig. Hy sê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen en die saak word deur die speurders van die Paarl-Oos-polisie ondersoek.
Navrae is aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) vir kommentaar gerig.
“ ’n Personeellid het die lyk van ’n pasgebore baba in ’n asblik by die skool gevind. ’n Polisie-ondersoek is aan die gang. Sielkundiges van die distrikskantoor het berading aan personeellede verskaf,” sê Millicent Merton, ’n WKOD-woordvoerder.
Nadat die nuus gebreek en soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, het baie mense hul simpatie met die situasie uitgespreek. Hoewel dit nie tans bevestig is nie, is inwoners van mening indien dit ’n leerder is wat die baba gebaar het, sy verskriklik bang moes gewees het, maar nie die vrymoedigheid gehad het om vir hulp te vra nie.
“Ek kry daardie meisie so jammer. Om te kraam is nie maklik nie. Hoe moeilik moet dit wees om pyne by die skool weg te steek en ná alles op te staan asof niks fout is nie. Ek hoop sy kry die nodige hulp,” lui een inskrywing.
“My skat, dit kon nie maklik gewees het nie. Niemand weet waardeur jy moes gaan of wat jy moes deurmaak nie. Oordeel kom ons as mens nie toe nie,” lui ’n ander inskrywing.