Van Wyksvlei se Lundy Jacobs het gehore by die Suidoosterfees se Talentsoektog-kompetisie met haar magtige sangstem betower en daarmee het sy die wenprys van R10 000 huis toe geneem.
Dit was maar haar tweede verskyning in dié bekende talentkompetisie en in die beeldmateriaal wat haar vertoning op Saterdag (1 Mei) by die Kunstekaapteater (Artscape) vasvang, is die gehoor se gejubel byna oorverdowend.
“Die verhoog voel soos my tweede tuiste . . . dit is ’n absolute gemaksone waar ek net myself kan wees,” vertel sy met selfvertroue.
“Dit is die eerste keer dat ek so ’n kompetisie wen, toe ek nou vir die tweede keer deelneem.”
Sy bieg dat haar “nerves”, nes enige ander mens s’n, minute voor sy die verhoog moet aandurf oproerig is, “maar sodra die musiek begin, is ek gefokus”.
Die trefferliedjie wat gesorg het dat Lundy se stem bo alle ander se talente uitgeblink het, was “I Surrender” van Celine Dion.
Dié oorwinning het vir haar as ’n totale verrassing gekom.
“Ek het dit nie verwag nie. My kompetisie en mededeelnemers was absoluut amazing. Die meisie wat naas my tweede gekom het, het ewe aan my gesê dat sy geëerd was om teen my te verloor.”
Lundy is nie heeltemal seker of dit ’n kompliment of dalk ’n snedige opmerking was nie, “maar my oorwinning was net te stroopsoet om myself daaraan te steur”!
Die realiteit het verlede Donderdag, toe Paarl Post met haar gesels, nog nie heeltemal ingesink nie.
Lundy vertel dat sy nie juis ingeskryf het met die doel om sodanig te wen nie.
“Dit voel steeds soos die ander keer wat ek verloor het. Dit was doodeenvoudig om die ervaring daarvan te kan uitleef.
“Dit was net so ’n fantastiese ervaring om soveel mense met besonderse en unieke talente te ontmoet en bietjie saam met hulle agter die skerms te kuier.”
Tans hou Lundy duimvas om vir deelname aan ’n talentkompetisie, Die Kontrak, aangebied deur Demi Lee Moore, gekies te word.
“Ek het reeds ingeskryf deur ’n video waar ek sing, in te stuur.
“Nou wag ek net in spanning en angs om daarvan terug te hoor.”
Lundy se stembande vibreer al sedert agtjarige ouderdom toe sy in gr. 2 by die skoolkoor by Wellington Primêre Skool aangesluit het.
“Ek sal my sangonderwyseres nooit ooit vergeet nie – ou dierbare Juffrou Hendricks.”
Bedags verruil dié 27-jarige haar glanspersona vir haar pligsgetroue dienslewering aan die begunstigdes van die gemeenskapsgesondheidsentrum in Dr Abduraghman-weg in Wellington.
“Ek werk nou al die afgelope jaar en vier maande by die gesondheidsentrum.
“Ons pligte behels om na sommige areas uit te gaan, om by pasiënte wat nie ver kan loop of reis nie te gaan inloer en huisbesoek af te lê.
“Ons is ook verantwoordelik vir basiese mediese check-ups, om seker te maak ons begunstigdes kom haal hul medikasie, en ook om by die pasiënte wat nie vir afsprake opdaag nie te gaan inloer.”
Sy is trots om so ’n belangrike rol in veral die minderbevoorregte gemeenskappe te vervul en ’n bewussyn van gesondheid onder jongmense te kweek.
“ ’n Ding wat my baie na aan die hart lê, is tienerswangerskappe. Dit is ’n vieslike euwel wat sy houvas op ons kultuur en gemeenskap het – ek gaan bewustelik uit my pad uit sodat meisies en jongmans doelgerig op hul toekoms en vooruitsigte kan fokus.
“Eerder dit, ten spyte van stadige of vervelende groei, as om in ’n situasie te beland wat maklik sonder behoorlike gesinsbeplanning kan skeefloop.”
Toe sy haar eie toekoms moes uitpluis, het Lundy besef dat sy bitter graag verder in haar sangloopbaan wil vorder. “Ek wil uitkom en op my huidige omstandighede verbeter en bou.
“Die Here het vir my met iets só besonders geskape, dat ek dit met ander wil deel en glad al versigtig is om nie my sangtalent te verloor nie!”