Karli van Deventer en Nika van Huyssteen, leerders aan Laerskool Paarl Gimnasium is groot aanhangers van die Lotta se Lewe-reeks.Foto: Liezl Davids


Karli van Deventer (11) en Nika van Huyssteen (11), leerders aan die Laerskool Paarl Gimnasium, is groot aanhangers van die Lotta se Lewe-reeks en was uit die veld geslaan toe dié skrywer vir Karli ’n boodskap vir haar verjaardag skryf.

Karli en Nika lees reeds vandat hulle nege jaar oud is die boeke en hulle stem saam dat die illustrasies in die boeke dit vir hulle baie interes­sant maak. Hulle geniet ook die feit dat die boeke prettige verhale vertel wat hulle laat skater van die lag.

In 2018 het Karli se ma, Henda, vir Karli ’n boek met boodskappe van al die spesiale vroue in Karli se lewe gegee. ’n Groot verrassing was dat die skrywer van die Lotta se Lewe-boeke, Alice Pantermüller, ook vir haar ’n boodskap in dié boek geskryf het.

Henda vertel sy het vir Alice ’n e-pos gestuur met haar versoek en sy was self verbaas toe die skrywer terug antwoord.

Alice woon in Lüneburg in Noord-Duitsland en is bekend vir haar kinderboeke, Bendix Broderson. Die boeke word oorspronklik in Duits geskryf en van die boeke is in Afrikaans vertaal.

Alice het haar boodskap vir Karli Paarl toe gepos en ook verskeie Lotta se Lewe-poskaarte wat Karli met haar vriende gedeel het.

“Ek het regtig nie gedink sy sal vir my iets skryf nie, want sy het so baie aanhangers,” vertel Karli opgewonde.

Volgens Karli en Nika sal seuns ook die boeke geniet al is die hoofkarakter ’n meisie. Lotta het glo ook ’n blokfluit by haar ma gekry, maar dit maak glad nie mooi musiek nie, maar Lotta kan wel met die blokfluit dinge hipnoti­seer.

Dié twee sien uit na Lotta se Lewe 10, waarin Lotta aan ’n kompetisie deelneem om ’n reis na Australië te wen.• Een gelukkige leser kan Lotta se Lewe 10: Koalakonsternasie ter waarde van R175 wen deur die naam van die skrywer te SMS na 066 484 3728 voor 12:00 Maandag 16 Desember.

You need to be Logged In to leave a comment.