Die skielike afsterwe van die geliefde onderwyser en skrywer Ernest Loth het verlede week skokgolwe deur die dorp gestuur. Loth was ook ’n gereelde rubriekskrywer van Paarl Post.

Die 64-jarige is verlede Dinsdag (28 Mei) oorlede nadat hy die vorige naweek geval het, vertel sy neef Sandy Loth.

“Hy was die MC [seremoniemeester] by ’n partytjie van ’n goeie vriendin se dogter. Ná die geleentheid het hy nie lekker gevoel nie. Hy wou na die voertuig gaan en terwyl hy by die trap afgestap het, het hy geval en op sy voorkop geland. Hy het breinskade opgedoen en is in Paarl-hospitaal opgeneem. Dokters het die moontlikheid van ’n hartaanval of ’n beroerte uitgesluit en vermoed hy het duiselig geword terwyl hy by die trappe afgekom het.”

Sandy beskryf sy neef as ’n sprankelende mens wat gelewe het vir mense en nie materialistiese besittings nie. Hy was ook verskriklik lief vir kuns en boeke.

“Sy woning beeld die tipe mens wat hy was uit. Dit was vol kunswerke, boeke en nog boeke.”

Loth het jare lank as ’n Afrikaans- onderwyser gewerk en was baie lief vir tale. Hy het in 2020 sy debuutdigbundel, Uit hierdie Valkenburg, bekendgestel.

Sy loopbaan as onderwyser het ná sy studies by Weltevrede Sekondêr begin. Hy het ook by Klein Nederburg Sekondêr, Paulus Joubert Sekondêr en Noorder Paarl Hoërskool gewerk. Loth het ook vir die Afrikaanse Taalmonument vryskutwerk gedoen en was ook by Die Ou Meul-teater betrokke.

Loth laat ’n groot en ryke nalatenskap agter, veral met die invloed wat hy op ander se lewens gehad het.

Inspirasie

Veronique Jephtas, ’n skrywer en aktrise, sê Loth is regtig die rede agter haar suksesvolle loopbaan.

“Hy was die eerste mens in ’n very long time, wat my ernstig opgeneem het en gedink het ek kan hierdie professioneel doen. En nou doen ek dit – danksy hom.”

Die skrywer Logan Adams, wat ook deur Loth onder die vlerk geneem is, onthou hom as ’n nederige mens, maar met soveel selfvertroue.

“Hy het nooit gedink hy is beter as ander nie, maar hy het liewer sy hart oopgehou vir ander en was daar wanneer jy hom nodig gehad het. Hy was ook iemand wat die potensiaal kon raaksien in ander – ek kan self daarvan getuig. Toe hy my opstel voor die klas gelees het, toe ek in gr. 10 was, en tot vandag toe het hy my inspire om my skryfloopbaan verder te vat. Hy was ’n baanbreker; ’n jack of all trades. Hy het baie vry gelewe en was vir my meer as ’n opvoeder – hy was soos ’n pa; iemand op wie ek kon staatmaak.”

Loth laat drie susters – Geanette van Louw, Bernice Fortuin en Elize da Silva – agter.

  • . ’n Gedenkdiens vind vanaand om 19:00 by die VGK Hugenote kerk plaas. Die begrafnis is Saterdag by dieselfde kerk – besigtiging is om 10:00 en die roudiens begin om 11:00.

You need to be Logged In to leave a comment.