Daar is ’n olifant in die vertrek en hy kom van ver af.

Ek wonder wat het geword van die beloftes van ’n sosiale dialoog wat op nasionale vlak deur ons top-politici gemaak is. Hierdie is ’n blote wonder, want ons het mos al as landsburgers geleer dat jy nie jou verwagtinge te hoog moet stel as dit by politieke beloftes kom nie.

Wat my egter noop om hieroor te wonder, is die feit dat sodanige sosiale dialoog (in verskeie kreatiewe vorme) in ons land van broodnodige belang is. Só ’n sosiale dialoog op mikro- en makro-vlakke sal nasiebou as hoogste prioriteit stel. So wil ek my laat glo, want hoe dan anders?

Wie kan nog onthou hoe ons hier knap ná 1994 die Waarheid-en-versoeningskommissie in aksie gesien en ervaar het? Daar was ook die parallelle proses tot die WVK. Dit was die werk van die Healing of Memories Institute in Kaapstad. Ek was deel van laasgenoemde instansie. Dit was ’n absolute voorreg om te kon ervaar hoe die werk van die Healing of Memories Institute waarde toegevoeg het tot die heling van mense se diep seer wonde, wat primêr toegeskryf kon word aan ’n drakoniese politieke bestel genaamd Apartheid. Dis vir my wonderlik om te weet dat die werk van die instituut steeds voortgesit word – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal.

Die WVK het gekom en gegaan. Na my beskeie mening moes die primêre mandaat van die WVK ná die spertyd steeds in ander kreatiewe vorme op nasionale, provinsiale en plaaslikeregeringsvlakke voortbestaan het. Hoekom? Die eenvoudige rede daarvoor is dat jy bloot nie jare se onreg, rassisme en ander euwels wat in ons land plaasgevind het, binne ’n jaar of twee wil begrawe nie. Onthou jy nog die vergewe-en-vergeet-deuntjie wat so lukraak rondgeswaai is? Die stukrag agter die vergewe en vergeet was die feit dat ons saam die land (ekonomie) moet bou en dit verg baie tyd en energie. Natuurlik maak dit sin dat ons die land se ekonomie moet laat groei, maar so wil ek ook glo dat ons maniere en wyses moet vind om ook ons verhoudinge as ’n nasie te bou.

Daar is wel die geleenthede wat bevorderlik is vir nasiebou, soos byvoorbeeld ons nasionale sportsoorte. Is dit egter genoeg, want ’n mens wil darem ook nie sien dat nasiebou ’n afgewaterde saak moet wees nie.

So ’n week of wat gelede kontak ’n naaste familieverwant my. Hy het hy sy beursie iewers op ’n besige Saterdagoggend in die sakekern van die dorp waar hy woon, verloor. Die maand se kos­voorraad was nog nie eens gekoop nie, om nie eens te praat van die bankkaarte, rybewys, identiteits­kaart en noem maar op wat nou ge­stop of ver­vang moet word nie. Dis ’n nagmer­rie wat geen mens oor homself wil bring nie. Iewers in sy skok en teleurstelling neem sy verbeelding skewe draaie en wil hy begin stereotipeer oor wie die beursie opgetel het en dat hy maar kan ver­geet om dit ooit weer te sien.

Klink dit bekend?

Wel, ’n paar uur daarna – op dieselfde Saterdag – verwittig ’n gawe swartman hom op ’n sosiale platform dat hy sy beursie verloor het en dat hy dit by ’n sekere adres kan kom afhaal. Al sy geld en ander kaarte was nog in sy beursie.

In ons oomblikke van swakheid is dit so maklik dat ons weer na die ou stereotipes gryp. Hulle is so en so. Daardie groep wil nou maar eenmaal net so doen en wees. Dalk het dit tyd geword dat ons die waarheid oor mekaar leer ken.

Dit wat ek die meeste van die kere ontdek het, is die feit dat ons definitief meer in gemeen het as wat daar verskille tussen ons is. En was of is verskille of anders wees noodwendig verkeerd? Gaan kyk maar by elke rassegroepering in hierdie mooi land van ons. Daar is by elkeen diegene by wie jy op ’n individuele vlak aanklank vind en met wie jy selfs ’n vriendskapspad kan stap. Ander wil jy soos die pes vermy, want jy vind bloot nie aanklank by daardie individu nie, hetsy hy of sy bruin, swart, wit of watter ander kleurskakering is. Dalk sal genoeg blootstelling aan mense oor jou eie kleurgrens die verskil maak. Dit vra egter dat ek myself intensioneel moet oopstel vir daardie leerervaring – miskien deur net vriendelik te groet en volgende keer ’n informele gesprekkie aan te knoop. Wie weet. . . dalk word ons aangenaam verras deur die eendersheid wat ons in mekaar ontdek.

Die mooiste van so ’n informele proses is dat niks geforseer word nie. Die andersheid wat ons in mekaar ontdek, word gevier en nie as benede my eie kultuur en verstaan beskou nie. En as ek dan wel ’n klippie in die skoen ervaar met die manier van doen en dink van die mens langsaan, waak dan tog net daarteen om nie te veralgemeen nie. Nie alle mense in daardie rassegroepering is dit of dat nie.

Daar is ’n olifant in die vertrek en hy kom van ver af.

You need to be Logged In to leave a comment.