Paarl Post het gaan inloer by die huis van die Suid-Afrikaanse Lippizaners by Mistico, buite die Paarl, om te hoor hoe hierdie wit hingste die Kaapse Wynland ervaar.
Die Suid-Afrikaanse Lippizaners of “Lippi’s”, soos hulle onder die werknemers van Mistico bekendstaan, het tydens 2021 Johannesburg verruil vir die Wynlande, en het sedertdien die harte van baie Kapenaars gesteel.
Die “Lippi’s”
Volgens Jhan-Mari van den Berg, ’n ruiter en openbare betrekkinge-bestuurder by die Suid-Afrikaanse Lippizaners, is daar tans 30 hingste op die perseel wat ses dae ’n week deur ’n groep ruiters, wat bestaan uit aangestelde afrigters en studente-ruiters, geoefen word.
Om ’n “Lippi” te ry is om aan eeue oue geskiedenis deel te neem, volgens die Suid-Afrikaanse Lippizaners se webtuiste.
Dié perderas is in 1562 vir die eerste keer deur die Hapsburg-familie in Hongarye geteel.
Lippizaners het eers in 1956 sy verskyning in Suid-Afrika gemaak toe Graaf Jankovic-Besan, die Lippizaner-stoet se destydse eienaar, van Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog gevlug het, en hom uiteindelik in Kayalami in Johannesburg gevestig het.
Volgens Van den Berg is Lippizaners ook een van die oudste perderasse met minder as 200 van dié perde in Suid-Afrika.
“ ‘Lippi’s’ is soos marshmallows,” volgens Van den Berg, wat verduidelik dat die ouer hingste wat hul werk goed ken maklik is om te bestuur en “baie spesiaal” is om te ry.
Van den Berg het ook met ’n glimlag verklap dat sy wél ’n gunsteling het, al word dit nie aanbeveel nie, maar steeds geniet om met elke hings te werk.
Wie is die stoutste of moeilike perd?
Op hierdie vraag beantwoord die kranige ruiter dat dit “afhang van die dag” en dat perde, net soos mense, hul goeie en slegte dae het.
Die besigheid
Buiten die stoetery en vertonings wat dié organisasie sonder winsoogmerk bestuur, is daar by Mistico ook ’n studenteprogram.
Volgens Van den Berg bied die Suid-Afrikaanse Lippizaners ook dié program aan wat ywerige ruiters die kans gee om ’n kwalifikasie van die Perdry-kwalifikasie-owerheid van Suid-Afrika (EQASA) tot op die derde vlak te ontvang deur privaat aansoek te doen of geborg te word.
Shioban Wall, eienaar van Mistico, verduidelik dat die Suid-Afrikaanse Lippizaners ’n organisasie sonder winsbejag is wat meesal staatmaak op donasies en kaartjieverkope om die perde te voed en die salarisse te betaal.
Hoekom is dit dan nodig om ’n vriendelike “Lippi” te borg? Want wie sal nou nié die voortbestaan van dié saggeaarde gesigte wil verseker nie?
Volgens Wall kom Lippizaners slegs in Wene en Suid-Afrika voor.
Donasies –wat ook gemaak kan word deur ’n My School-kaart by Woolworths te swiep – sal die organisasie se toekoms verseker.
Nampo
“Lippi”-liefhebbers kan gerus die ballet van die wit hingste bekyk wanneer 13 perde met hul klassieke bewegings by die Nampo-landbouskou vanaf 13 tot 16 September in Bredasdorp sal bekoor.
Daar is elke oggend om 10:00 ’n vertoning, asook smiddae om 15:00 vir een uur lank. Sondag 16 September sal daar net een vertoning om 10:00 plaasvind omdat die ekspo reeds om 15:00 sluit.
Kaartjies vir die ekspo kan gekoop word teen R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders by www.ticketpros.co.za, terwyl dit ook teen R90 beskikbaar is vir volwassenes by die hekke.
Daar is ook die eerste Sondag van elke maand ook ’n vertoning by Mistico en kaartjies kan deur Quicket of by die hekke van dié bekende stalle gekoop word.