Danielle Alho (regs), leier van die kinderkerk van Lions of the Valley, met haar man Ricardo en kinders Eliana, Miguel en Gabriel.


’n Kerk waar almal welkom is vir aanbidding maak môre sy deure oop. Pastoor Jurie Jooste en sy mede bedienaars van Lions of the Valley is opgewonde om die nuwe gemeente in geloof te lei.

Jooste sê hy het ’n openbaring van die Heilige Gees ontvang dat die nuwe gemeente hier in die Paarl gevestig moet word.

“In Desember 2019, net voor die Covid-19-pandemie, het ek een oggend gedraf en in die omgewing waar ek gedraf het, is ’n kloktoring. En die kloktoring lui toe daardie dag twaalf keer omstreeks 12:00. Dit was die eerste keer dat ek die klok hoor lui. Toe ervaar ek wat die Here vir my sê, deur die Heilige Gees, dat daar ’n nuwe seisoen is wat aanbreek. En die Heilige Gees vra vir my ‘wat sien jy?’ en ek sê toe ‘Here, ek weet hulle noem hierdie plek die vallei van die lewe, maar in hierdie stadium van my lewe voel dit vir my soos die vallei van droë bene’.

“En die Here vra toe vir my maar wat het in die vallei van die droë bene gebeur? Toe sê ek ‘Here, u weet beter. Die vallei van droë bene het die vallei van lewe geword’. Toe ervaar ek dat die Here wil hê ons moet ’n gemeente in hierdie area plant. Ons begin 25 September. Ek glo ons is regtig gehoorsaam in dit wat die Here wil doen saam met al die kerke en bedieninge wat daar is in Sy koninkryk.”

Jooste vertel hy is in Namibië gebore. Hy en sy familie het teen einde 1989 na Suid-Afrika verhuis waar hy van 1990 tot 1995 sy skoolloopbaan in Pretoria voltooi het. As ’n 22-jarige jongman het Jooste besluit hy wil vir die Here werk en het hy sy hart aan Hom oorgegee. Hy is sedertdien bekeer en het sy studies voltooi by die Lewende Woord Bybelskool waar hy omtrent sewe jaar betrokke was.

Ná sy studies was hy vir twaalf jaar ook voltyds betrokke by die bediening in verskeie Lewende Woord-gemeentes. Jooste het gehelp om gemeentes te stig en het van 2015 tot 2020 gemeentes geestelik gelei. Hy sien daarna uit om ’n nuwe reis te begin met gemeentelede van Lions of the Valley.

“Ons visie is ‘Living a life glorifying God’ en dit kom uit daai skrifgedeelte in Openbaring 4:9: ‘Giving glory, honour and thanks to Him who sits on the throne forever’.

“Ons missie is ‘the unchurched to be churched, the church to be equipped, the equipped to be positioned and the positioned to make a difference in the body of Christ’. Dit beteken om elke persoon toe te rus vir wat hul deel is in die liggaam van Christus. Dis basies dissipelskap.”

Lions of the Valley is gegrond op sewe waardes en dis liefde, die Woord, vreugde, identiteit, familie, uitnemendheid en gebed.

“Ons kinderkerk is ook baie belangrik – ons glo in die volgende generasie en ons wil regtig ’n impak maak op die kinderkerk en dan ook families. Ons het ook ’n jeuggroep en dit word genoem Light Club.

“Of mense enkel of getroud is, wil ons hulle graag by ’n geestelike familie inskakel,” voeg Jooste by.

Die kerk is geleë by die Freedom Hill Vineyards-venue, aan die linkerkant net verby Pearl Valley, op die R301 (Wemmers­hoekpad).

You need to be Logged In to leave a comment.