Linton Park, die bekende wynplaas buitekant Wellington aan die voet van Groenberg, het verlede week sy 318de bestaansjaar as een van die land se pionier-wynplase op luisterryke wyse gevier.
Onder die bekendes wat die feesvieringe bygewoon het was Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese ontwikkeling, en verskeie stadsraadslede van die Drakenstein- en die Kaapse Wynlande-munisipaliteite.
Volgens Kobus Smit, bestuurder van Linton Park, is die plaas oorspronklik onder die naam De Slange Rivier in Februarie 1699 aan Louis Fourie toegeken.
Die plaas is reg van die begin af as ’n wynplaas ontwikkel en omdat die wingerde op verskillende hoogtes teen die westekant van Groenberg aangelê is, sorg die langer sonskynure per dag dat Linton Park se wingerde wyne van uitsoekgehalte lewer.
Die bekende Britse organisasie, Camellia, het Linton Park in 1995 gekoop en deel gemaak van sy wêreldwye netwerk van plase waar daar onder meer met tee, pynappels, makadamia-neute en avokado’s geboer word.
Camellia is ook op groot skaal betrokke by die verpakking en verspreiding van vrugte en het wêreldwyd altesaam 76 000 mense in diens.
Hoewel Linton Park se wyne besonder goed in die buiteland vaar, is dit minder bekend in Suid-Afrika en daarom het die onderneming nou besluit om daadwerklike stappe te neem om die plaas se uitsoekwyne wyer in Suid-Afrika bekend te stel.
* The well known Wellington wine farm Linton Park, last week celebrated 318 years of wine making.


