Die 17-jarige Lila Nienaber van die Hoërskool Gimnasium Paarl is onlangs aangewys as die gesamentlike wenner van die Sarie-Nuwe Gesig-kompetisie.
Volgens dié matrikulant het sy nog altyd ’n belangstelling in modelwerk gehad, maar die inskryf van die kompetisie het toevallig gebeur.
“Ek het van jongs af baie in modelwerk belanggestel. Ek het van kleins af fotosessies gehad. Hierdie is die eerste keer dat ek aan só kompetisie deelneem en ek het elke oomblik van die ervaring geniet. Die Sarie-span was lekker om mee te werk, en ek het wonderlike mense leer ken.
“My ma het die kompetisie se advertensie vir my aangestuur en my aangemoedig om in te skryf. Ek het gedink dit sal ’n goeie uitdaging wees en wys dat ek goed in die lewe self kan bereik en nie net deur my van nie.”
Lila is die dogter van die voormalige Springbok-afrigter Jacques Nienaber.
En toe bewys die jongmeisie haarself reg – sy het ’n naam vir haarself gemaak. Sy dra die wentitel saam met Anouk Janse van Rensburg van Pretoria se Afrikaanse Hoër Meisieskool.
“Dit is ’n baie groot eer om so kompetisie te wen en ek het die ervaring baie geniet. Ek het baie pryse gewen, wat haarprodukte vir ’n jaar insluit, asook velsorgprodukte, skoonheidsbehandelings vir ’n jaar en eetgerei van die kunstenaar Olivia.”
Wat hierdie toekenning van Lila nog meer merkwaardig maak, is die feit dat sy dit op haar eie gedoen het. Sy is baie onafhanklik en woon in die koshuis, terwyl haar ouers verlede jaar na Dublin verhuis het.
“Ek het gekies om matriek in Gim klaar te maak, al het my ouers verlede jaar reeds Dublin toe getrek, maar dit het my baie onafhanklik gemaak. Ek het op 16 jaar reeds op my eie oorsee gevlieg. Ek is gewoond daaraan om my eie goed te reël en sê altyd: ’n Boer maak ’n plan, maar ’n vrou maak twee.”
Lila sê sy is in Bloemfontein gebore. Sy en haar gesin het destyds Kaap toe getrek toe sy een jaar oud was. In 2016 het hulle vir twee jaar in Limerick, Ierland, gewoon voordat hulle weer teruggekeer en Lila by Gim aangesluit het.
“Ek het ’n ouer broer, Carlu, wat aan die Universiteit Stellenbosch studeer. My hond, Chewy, bly in Dublin by my ouers. Ek hou van draf en gim en is ook baie lief vir musiek; ook om klere te koop, tyd saam met vriende deur te bring en te reis. Ek is bevoorreg om dit op ’n baie jong ouderdom te kon doen. My gunstelingstad is Parys, en verlede jaar was ons vir paar weke daar vir die Wêreldbekerrugby. Ek is mal oor die mode en kos in Frankryk. Ek wil graag ná skool verder modelwerk gaan doen en in stilering en mode studeer. Dit was nog altyd ’n groot passie.”
Haar ma, Elmarie, is verskriklik trots op haar dogter en wat sy tot dusver bereik het. Sy beskryf Lila as iemand wat nog altyd hardwerkend was.
“As sy besluit sy gaan iets doen, sal min haar keer. Ons is baie trots op haar en saam met haar bly oor die wen van die voorbladkompetisie. Ek dink wat dit merkwaardig maak, is dat sy alleen in die koshuis bly terwyl ons in Dublin bly. Ek noem haar my super solo, want sy het hierdie jaar so goed hanteer. Daar was uitdagings, maar sy het elke keer ’n plan probeer maak eerder as om in sak en as te sit oor die een of ander uitdaging.
“Baie mense het ons vanjaar met haar gehelp – of dit nou is om take te bind, saamrygeleenthede, om naweek-ouers of instaan-ouers by skoolfunksies te wees, medisyne af te laai of sommer net ’n bederfie by die koshuis te gaan afgee. Almal het gehelp. Ons kan net baie dankie sê vir elkeen wat ja gesê het as ek om hulp of ’n guns gevra het.
“Ons sien uit na Lila se toekoms en wat dit inhou. Een ding is vir seker – sy sal voluit gaan daarvoor.”
Die nommer-een-raad wat Lila vir ander jongmeisies het om hul drome te volg, is om hard te werk.
“Dit maak nie saak hoe moeilik dit is nie. Solank jy hard werk, is enigiets moontlik.
“Ook om te weet dat deure soms sal toeslaan en ’n mens dit nie altyd verstaan nie, maar as ’n mens aanhou hard werk en in jou drome glo, is enigiets moontlik.”