Om vir ure sonder elektrisiteit te sit, is vir sekere inwoners ’n groot irritasie, ander meen dit is maar net ’n paar uur waarin hulle tyd saam met familie sonder tegnologie kan deurbring.
Die werklikheid is egter dat dit vir baie huishoudings in Suid-Afrika niks nuuts is om noodgedwonge sonder elektrisiteit klaar te kom nie omdat hulle nog nooit elektrisiteit in hul huis gehad het nie.
Dit laat ’n mens stilsit en dink aan al die redes hoekom elektrisiteit vir jou belangrik is en hoe ander oor die algemeen daarsonder regkom.
Ons kan egter nie miskyk watter groot impak die elektrisiteitskrisis in ons land en op die ekonomie het nie.
Wanneer gaan Eskom en die regering minder hul skouers optrek en hul hande vir die regte redes vuilmaak?
Ná die streng inperking tydens die pandemie het sakeondernemings ’n geweldige knou gekry, en net toe almal die lig aan die einde van die tonnel begin sien, kom Eskom op sy beurt met fase 5 en fase 6 en sit daardie lig weer af.
Nie net gevestigde ondernemings nie, maar ook klein ondernemings trek swaar, en dit het ’n rimpeleffek op werkers en hul huishoudings.
Terwyl inwoners magteloos voel oor beurtkrag, moet mense plaaslik ondersteun en terugploeg in die gemeenskap, want wie anders gaan dit doen as inwoners self?

