’n Splinternuwe plan om te sorg dat getroue plaaswerkers ’n gerieflike en bekostigbare dak oor die kop sal hê indien die plaas waarop hulle ’n leeftyd lank gewerk het, skielik verkoop word en hulle nie meer woonplek of werk op die plaas het nie, is besig om in die omgewing van Wellington vorm aan te neem.
Die plan is ná deeglike samespreking tussen die bekende Wellingtonse sakeman Gary Raats en die werkers op sy plaas Olyvenhout buite Wellington ontwikkel. Olyvenhout is ’n bekende plaas wat grens aan die terrein waarop Douglas Green se fabriek en kantoor is. Douglas Green het die plaas onlangs by Raats gekoop en die plaaswerkers moes hul huise ontruim.
Van die werkers het ’n leeftyd lank op Olyvenhout gewerk en het geen ander heenkome gehad as die huise waarin hulle op die plaas gewoon het nie. Raats het besluit om met die werkers in gesprek te tree en ’n plan te probeer ontwikkel wat sal verseker dat hulle almal in die toekoms ’n dak oor die kop sal hê.
Die samespreking is gevoer tussen Nosey Pietersen van die plaaswerkersvakbond Bewusa, Marius Abrahams, ’n prokureur wat die betrokke plaaswerkers verteenwoordig en Raats en sy prokureur Steph Grobler.
Volgens Grobler het Raats en die werkers ná intensiewe onderhandeling wat nagenoeg ses maande geduur het, uiteindelik tot ’n bevredigende ooreenkoms gekom: Raats se maatskappy sou vir die vier gesinne wat by die verskuiwing betrokke is, elk ’n nuwe woonhuis bou. Hulle het ook ooreengekom dat die eienaarskap van elk van die wonings wat die maatskappy vir die werkers bou, aan die hoof van die onderskeie families oor te dra.
Die maatskappy het erwe in Green Valley by die Paarl aangeskaf en vir elke gesin ’n volledige huis met aparte slaapkamers, kombuis en badkamer gebou.
Die boukoste het R430 000 per huis beloop en die owerhede het reeds belowe dat die boukontrakteur ’n subsidie van nagenoeg R1 600 per voltooide woning sal ontvang.
Groot vreugde het verlede week by die oorhandiging van die nuwe huise aan die vier families geheers. Een van die begunstigdes het gesê hulle het al die jare in nederig huisies sonder lopende water of toilette gewoon.
Hulle moes self drinkwater en waswater uit die nabygeleë rivier gaan skep. Die Wellingtonse munisipaliteit het soms water in ’n houer gebring. Die nuwe huise het lopende water en ’n spoeltoilet. Die huise is in ’n netjiese woonbuurt en is binne stapafstand van winkels en ander geriewe.
Die entoesiasme waarmee die planne vir die hervestiging van die werkers begroet is, het daartoe gelei dat verskeie boere in die Drakenstein-gebied te kenne gegee het dat hulle dit nou oorweeg om plaaswerkers wat ’n plaas moet verlaat, op dieselfde wyse by te staan.
Pietersen sê dit is baie belangrik om te verstaan watter soort ooreenkomste bereik kan word as al die partye saam om ’n tafel gaan sit om na ’n bevredigende oplossing te soek.
Hulle het na ’n oplossing gesoek – nie na maniere om die ander party te uitoorlê nie.
Een van die mense wat by die onderhandelinge betrokke was, het agterna daarop gewys dat die gesinne reeds op die plaas was toe Raats die plaas gekoop het.
Hy was dus nie die oorsaak van die moontlik uiters plofbare situasie nie, maar het dit nogtans deur goeie onderhandelinge op ’n positiewe wyse ontlont.
* A brand new plan to ensure that loyal farm workers have a comfortable and affordable roof over the heads if the farm they lived on for a long time is suddenly sold, has been initiated.