Leiers van die taxiverenigings Cata en Codeta het Maandag ’n ooreenkoms onderteken dat hulle die B97-taxiroete sal deel.

Die twee verenigings baklei die afgelope paar jaar oor eienaarskap rakende die betrokke roete. Met die voortslepende konflik wat onder geweld en selfs moord deurgeloop het, is die Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, Daylin Mitchell, verlede jaar in Julie genoodsaak om die roete te sluit.

Die B97-roete is al vir langer as ’n jaar gesluit, maar die ooreenkoms tussen die twee verenigings gee hoop aan taxi-operateurs dat die roete binnekort oopgestel sal word.

Mitchell het die roete vroeër vanjaar – op 26 Mei – vir ’n verdere vier maande gesluit, wat beteken dat die sluiting vandeesmaand tot ’n einde sal kom, tensy Mitchell anders besluit.

“Die huidige sluitingstydperk kom op 25 September tot ’n einde. Ons het in oorleg met die geaffekteerde munisipaliteite ’n aansienlike hoeveelheid tyd, finansie­ring en hulpbronne in bemiddelings­pogings belê voordat die roete gesluit is.

“Taxi-bedrywighede op die B97-roete was ook die onderwerp van ’n arbitrasieproses. Die arbitrasietoekenning is in November 2021 vrygestel en ons het ’n daadwerklike poging aangewend om uitvoering te gee aan die arbitrasie-uitslag. Die arbiter het beslis dat Cata Boland Taxi Association en die Paarl Alliance Taxi Association (geaffilieer aan die Codeta-streek) wettige regte het om op die B97-roete handel te dryf.”

Die twee verenigings sal op ’n 50/50-basis saam op die roete werk, terwyl die Drakenstein-munisipaliteit ’n meer billike balans tussen vraag en aanbod van bedryflisensies sal reguleer.

“Die roete sal intussen gesluit bly totdat die reguleringsproses afgehandel is. Besonderhede van die sluitingstydperk sal mettertyd gedeel word,” het Mitchell gesê.

“Mense moet kennis neem dat die vervangende Golden Arrow-busdiens ná die heropening van die roete sal voortgaan om parallel met die taxidiens te funksioneer totdat alle buskaartjies/knipkaarte verval het.”

You need to be Logged In to leave a comment.