’n Hugenoot-matrikulant is vir SA se o.19-vroueonderwaterhokkiespan gekies.
Onderwaterhokkie is meer as net nog ’n sport vir haar. Deelname daaraan gee Lienke Heath kans om van ’n dag se stres ontslae te raak. Daarby is die kameraderie van haar spanmaats vir haar baie kosbaar.
So sê Lienke, ’n matrikulant aan Hugenote Hoërskool, wat in die Suid-Afrikaanse o.19-vroueonderwaterhokkiespan opgeneem is.
Dit is die eerste keer dat sy Junior SA-kleure sal ontvang, en ook die eerste keer dat sy oorsee sal speel. Haar span is een van vier Suid-Afrikaanse spanne wat in Julie na Kuala Lumpur, die hoofstad van Maleisië, sal reis om in verskillende ouderdomsgroepe aan die sesde Wêreld-onderwaterhokkie-kampioenskap deel te neem.
Lienke verteenwoordig die Boland reeds sedert 2019 by die jaarlikse Suid-Afrikaanse kampioenskap. Sy is in 2019 as een van die sport se ambassadeurs aangewys, en in 2021 is sy as die beste o.15-speler by die toernooi beloon.
Sy speel sedert 2017, toe sy in gr. 5 was, onderwaterhokkie. Sy het in die Paarl begin speel en is deesdae deel van die My Underwater Club (MUC) in Stellenbosch.
“Die oomblik toe ek in die water klim en my eerste wedstryd speel, het ek geweet dis my sport. Wanneer ek speel, voel ek asof ek ’n energie-skop kry. Ek’s altyd gelukkig in die water,” vertel sy.
“Die oomblik wat ek op die bodem kom en alles is stil om my, is dit net ek daardie skyf.”
Sy het net lof vir haar afrigter, Jack van Blerk, en die wyse waarop hy haar liefde vir die sport ontwikkel het.
“My spanmaats maak onderwaterhokkie selfs nog lekkerder. Ons almal ondersteun mekaar emosioneel en fisiek, want soms kan dit nogal rof raak.”
Dié waternimf is ’n lid van die Hugenote Hoërskool se swemspan. Sy speel ook netbal vir die skool. Daarby is sy ’n gekwalifiseerde menseredder en het einde verlede jaar diens by Ganzekraal en Yzerfontein gedoen.
. Die Suid-Afrikaanse Onderwaterhokkie Federasie (SAUWHF) ontvang geen finansiële ondersteuning van die staat nie. Daarom moet spelers wat die wêreldbeker wil bywoon, hul eie geld waar moontlik insamel.
Kontak Lienke se ma, Ilse Heath, by 081 271 0276 of kvheath@hotmail.com om haar te ondersteun. ’n Back-a-Buddy veldtog is ook van stapel gestuur. Kontak ook die SAUWHF-president, Linda Stephen, by sp@sauwhf.co.za vir meer inligting.


