‘Liefdevolle’ Small sterf ná skoknuus oor hartkwaal

’n Voormalige assistent-onderwyser verbonde aan Wellington Primêr is onlangs in die ouderdom van 26 jaar oorlede.

Kimberley Small


’n Voormalige assistent-onderwyser verbonde aan Wellington Primêr is onlangs in die ouderdom van 26 jaar oorlede.

Kimberley Small van Wellington is dood as gevolg van ’n vergrote hart, vertel haar bedroefde ma, Amanda Small. Volgens Small was daar nie regtig enige tekens dat haar dogter ernstig siek is nie, behalwe dat sy baie moeg was en baie geslaap het.

“Dit was in Maart toe sy die eerste keer in die hospitaal beland het en dis toe sy ook uitgevind het van haar hart wat nie reg is nie. Haar gesondheid oor die algemeen was heel allright, maar daar is niks wat ons kon gesien het wat aangedui het dat sy ernstig siek is nie. Sy het maar net baie geslaap en ’n mens dink mos nie dis regtig iets nie.” “Sy het in die hospitaal beland toe sy net begin pyn kry het by haar maag en haar rug. Toe is dit seker klaar wat dit haar ander organe affekteer het, want dokters het gesê haar niere [se werking] het afgeneem. Sy het verskriklik pyn gehad.”

“Die dokters het ontdek dat haar hart vergroot is en die bloed het nie gepomp soos wat dit moes nie en haar ander organe het ge-suffer as gevolg daarvan.” “Dit het baie pyn veroorsaak, maar hulle het gesê ook hulle kan niks doen om haar hart te herstel nie, want haar hart se funksie was maar nie eens tien persent nie.”

Nadat dokters die skoknuus met Kimberley gedeel het dat sy ’n vergrote hart het, het haar gesondheid sedertdien net verder afgeneem. Small sê toe sy uiteindelik van haar dogter se toestand hoor, was dit nie maklik nie.

“Ag, dit was maar moeilik, want ons het by Paarl-hospitaal ook gevra of ons haar nie na die Tygerberg-hospitaal toe kan stuur nie, want daar is die beste spesialiste. Maar dokters by die Paarl-hospitaal het gesê hulle voel nie sy moet verplaas word nie. So, hulle het seker besef dit gaan nie baat nie.”

“Die dokters het ons voorberei. Die beraders het gekom van hospice en hulle was ook elke dag hier by haar toe sy uit die hospitaal ontslaan is. Hulle het haar mooi versorg en dit het ons baie gehelp, maar hulle het ons ook voorberei en haar toestand het net heeltemal agteruitgegaan.”

Kimberley is op 24 Mei in haar ouerhuis oorlede. Small sê sy sal haar dogter altyd onthou as ’n rustige en lieflike mens.

Kimberley word ook oorleef deur haar agtjarige dogtertjie, Emily-Jade, haar kêrel, Shane Booysen, en haar suster, Shannon. Haar pa is sowat twee en ’n half jaar gelede oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.