Die vallei is vandeesweek geskok en in rou gedompel ná ’n skrikwekkende voorval waarin ’n bus twee matriek­leerders wat van hul skole huis toe gestap het, doodgery het.

Hoewel die bus in daardie stadium geen passasiers gehad het nie, is dit na bewering ’n bus wat wel gekontrakteer is om skoolkinders te vervoer.

Vrae word nou gevra oor die padwaardigheid van die bus.

Nie net bring hierdie tragiese voorval weer eens die kwessie van veilige leerdervervoer na vore nie, maar ook weer die gebrek aan wetstoepassing op plaaslike paaie.

Byna daagliks ontvang Paarl Post klagtes van die publiek oor wetteloosheid op ons paaie.

Verkeersreëls word deur baie verontagsaam – spoedvrate jaag heen en weer op ons besige paaie en duidelik onpadwaardige voertuie ry helder oordag sonder om enige kans van vervolging te vrees nie. Oorlaaide minibustaxi’s is juis lief daarvoor om padreëls te ignoreer.

Maar word daar ooit enige wetstoepassing hieroor gedoen? Duidelik nie.

Solank as die Drakenstein-vallei met ’n onbevoegde verkeersafdeling sit, sal die lewensverlies op ons paaie net aanhou styg.

You need to be Logged In to leave a comment.