Twee gepubliseerde kinderboeke in ’n jaar en ’n nagraadse kwalifikasie – dis wat die Wellingtonner Leon-Ben Lamprecht alles in 2021 op sy kerfstok het.
Maar, nog is dit het einde niet, sê hy, met talle idees vir nog stories vir sy eie drie kinders en andere wat nog in sy kop broei.
“Stories (en veral snaakse stories) maak van ons mense,” vertel hy.
Sy tweede kinderboek, “Barend die Barbaar”, is vars van die drukkers af. Dit is geïllustreer deur Thomas Snyman en word deur Kraal Uitgewers uitgegee. Dit vertel die verhaal van die gruwelike sewejarige Barend, wat niks en niemand met sy stoutighede ontsien nie. Dan ontmoet hy ’n fraaie blou-oog-meisie genaamd Meraai …
“Nee, die karakter van Barend is nie op myself of enige van my drie kinders gegrond nie,” voeg hy vinnig by.
Dis ideaal vir saamlees vir jonger kinders, of vir vroeë laerskoolkinders om self aan te pak, reken Lamprecht.
Die boek is in rym geskryf – ’n uitdaging vir selfs die mees gesoute skrywer.
“Rympieboeke is gewis nie dood nie,” reken hy.
“As ’n mens dit ’n bietjie verkort dalk, kan ‘Barend’ selfs as ’n Eisteddfod-rympie werk.”
Lamprecht het so half uit nood begin kinderboeke skryf tydens die 2020-grendeltyd, toe sy twee ouer kinders reeds deur die huis se voorraad boeke gelees het én die dorpsbiblioteek nog toe was.
“Ek het net een nag wakker geword met die openingstanza vir ‘Barend’ helder in my kop,” vertel hy. “Dit gaan so: ‘Barend, die barbaar, was genadeloos en naar. Dis nogal erg vir ’n seuntjie van net sewe’.”
Verlede jaar het Tafelberg Lambrecht se eerste boek, “Wie skrik vir Wortel Wolf?” uitgegee. By die duisend eksemplare is reeds verkoop, vertel ’n trotse Lamprecht, ’n finansiële adviseur. Hy het op sy dag vir die Weg-tydskrif geskryf en is ’n gereelde rubriekskrywer vir Rapport.
In ’n resensie vroeër vanjaar in Huisgenoot word in smaak en geur vertel hoedat Lamprecht met ’n ligte, humoristiese trant in “Wortel Wolf” ou bekende sprokies soos Rooikappie en die Wolf “op die kop draai” deur van die gedierte ’n vegetariër te maak.
“Ja, die eens vreesaanjaende gedierte is nou ’n vredeliewende wortelsopmaker, en toe hy per ongeluk tydens ’n hooikoorsaanval die drie varkies se huise omnies, is hy geweldig verleë,” skryf Huisgenoot se boekeredakteur.
Lamprecht het in Desember 2021 sy meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch ontvang, met ’n studie oor die inhoud van artikels in die tydskrif Weg.
Vanjaar lê nog ’n grote vir hom en wag: Hy dien op die reëlingskomitee van die 100ste eeufeesvieringe van Dagbreek-manskoshuis, waar hy in sy studentedae aan die Universiteit Stellenbosch tuisgegaan het.
Wie weet watter lekker stories sal nog uit sy pen kan vloei as dit eers agter die rug is?. Eksemplare van “Barend die Barbaar” kan via die skrywer of via Kraal Uitgewers se e-winkel (https://www.kraaluitgewers.co.za/e-winkel) teen R160 bestel word.


