Stormsterk wind het sedert Maandagaand chaos in die Drakenstein-vallei veroorsaak.
Die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, sê ’n hele paar voorvalle van windskade is Woensdagaand en -nag (30 Augustus) by die munisipaliteit aangemeld.
Gelukkig het die munisipaliteit se rampbestuur- en menslike nedersettingspanne mense wat in die volgende voorvalle geraak is, bygestaan:
- Twee vragmotors het in die Dutoitskloofpas omgeslaan, sê Esau. “Die pas was vir ’n rukkie toe, maar is weer oopgestel nadat die een vragmotor deur ons verkeersdienste verwyder is.” Swaar voertuie moes tydelik van die ou bergpas gebruik maak, terwyl ligte voertuie steeds stadig deur die tonnel kon beweeg.
- In Wynbergstraat, Charleston Hill, Paarl, het twee kragpale omgewaai wat veroorsaak het dat die kragtoevoer afgesny is. Esau sê dit is intussen herstel.
- In die Bo-Dalpad, Paarl, het ’n boom ook omgewaai.
- In New Orleanspark het twee bome omgewaai en op twee strukture geval. “Geen beserings is aangemeld nie. Die geaffekteerde gebied is ontruim en die Drakenstein-munisipaliteit het die mense bygestaan deur hulle en hul besittings in die Groenheuwel-biblioteeksaal in die Paarl te huisves.”
- In Hibiscusstraat in Lantana het nóg ’n boom op ’n informele struktuur geval. Hier is ook geen beserings aangemeld nie.
- ’n Huis se dak, muur en drie voertuie is ook in Magnoliastraat in Mountain View beskadig. “Verder het die munisipaliteit se brandweerdienste ’n boom gemonitor wat gedreig het om op die Sonstraal-hospitaal te val. Dié boom is veilig gemaak.”
Ter opsomming noem Esau dat altesaam 27 boomverwante voorvalle sover sedert Woensdagaand by die munisipaliteit aangemeld is, waarvan 13 veilig gemaak is.
“Omheiningskade is ook by verskeie plekke aangemeld. Vier munisipale spanne hanteer tans hierdie klagtes. Ons eerste prioriteit is om die gebiede veilig te maak waarna die skoonmaak-aksie sal begin.”
Kragtoevoer na die Vlakkeland-behuisingsprojek is geaffekteer, maar is intussen herstel.
Esau het aan Paarl Post bevestig dat dié stormwind derduisende rande se skade aan hoog- en laagspannings-kraglyne sowel as pale aangerig het. Hierdie skade is onder meer by die Lustiganpad, Jan Fiskaal en Jan Groentjiestraat, Keerweeder, Gilfillanstraat, Wynbergstraat, Jan van Riebeeck-rylaan in Newton, Hawaquapad, Calai-plaas in Daljosafat, en by Buffet Olives aangemeld.
“Dié skade het uiteraard tot kragonderbrekings gelei. Ons tegnici en kontrakteurs gee deurgaans aandag hieraan.”
Die Drakenstein-plaaswag (DFW) se netwerk van vrywilligers was ook bedrywig om mense gedurende die storm by te staan.
Die plaaswag se bevelvoerder, Daan van Leeuwen Boomkamp, sê verskeie voertuie is deur vallende bome getref.
“In een voorval op ’n plaas in Lusitganpad het ’n plaasvrou kragdrade wat ’n stuk van die gras aan die brand gesteek het, aangemeld.
“Die DFW se 4×4-voertuite het spoedig gereageer en die brand binne etlike minute geblus,” sê Van Leeuwen Boomkamp.