Van links is Omri en Liesl Thomas en Jone en Willem van Heerden verlede week by die openingsaand van die Lemoenkloof Boutique Hotel in die Paarl. Foto: Rasaad Adams


Die gebou is diep gevestig in die geskiedenis van die prentjie mooi Paarl, en met die nuwe eienaars beloof die splinternuwe Lemoenkloof Boutique Hotel in die Paarl ’n onvergeetlike ervaring – nie net vir besoekers wat daar oornag nie, maar ook vir sakeondernemings wat van die moderne konferensiefasiliteite gebruik kan maak.

Die gebou, wat voorheen as die Lemoenkloof Gastehuis bekend gestaan het, is nou oorgeneem deur twee getroude paartjies – Liesl en Omri Thomas en Jone en Willem van Heerden.

Die Lemoenkloof Boutique Hotel kombineer die sjarme van die ou wêreld met moderne geriewe en bied ’n rustige en luukse omgewing vir reisigers in die Kaapse wynlande.

Met sy welige tuine, 36 stylvolle kamers en hartlike gasvryheid, beoog die paartjies om Lemoenkloof ’n ideale bestemming vir ’n ontspannende wegbreek in die pragtige Kaapse wynlande te maak.

“Ek dink Lemoenkloof is ’n baie sterk handelsmerk omdat hy al so lank in die Paarl is. Almal weet waar is Lemoenkloof. Dit is lekker tussen die skole, dis sentraal, dis groot en ek dink wat uniek is aan Lemoenkloof is hierdie konferensiefasiliteite wat ander bestemmings nie noodwendig bied nie,” het Willem verlede week op die amptelike openingsaand aan Paarl Post gesê.

Die Lemoenkloof Gastehuis in die Paarl staan nou as die Lemoenkloof Boutique Hotel bekend.Foto: Verskaf

Omri en sy vrou, Liesl, het albei op die openingsaand gesê die gebou het ook ’n baie spesiale plek in hul hart.

“Toe ons hoor Lemoenkloof is potensieel te koop, het ons dadelik belang gestel. My vrou is ongelooflik op die gebiede van spyseniering en interne dekor. Dit was vir ons ’n ongelooflike geleentheid om saam met baie goeie vennote hierdie projek aan te pak. Willem en Jone is goeie vriende van ons,” sê Omri.

“Ons kinders was almal in Paarl Gimnasium en Lemoenkloof was altyd vir ons ’n baie spesiale plek. Ons het al hier kom oorslaap, want dis naby aan die skool, dis ’n ou historiese gebou en daar is soveel goeie herinneringe.”

“Ons ontvangs- en swembad-gebiede is opgeknap. Ons het ’n kroeg geopen wat ons in dié stadium die sportkroeg noem – ons het nog nie vir hom ’n naam nie,” sê Liesl oor die perseel se fasiliteite.

“Ons beplan om ook in die toekoms ’n wine and dine aan te bied met heerlike kos en wyn, waarna gaste kan oorslaap,” voeg Liesl by oor hul planne.

Hoewel Lemoenkloof nuwe eienaars het, is die werkers van die ou gastehuis ook deur die twee paartjies in diens geneem.

“Dit was vir ons ononderhandelbaar. Hulle moet bly. Ek belowe vir jou as jy een aand hier gebly het, gaan jy weet waarvan ek praat. Niks is vir hulle te veel moeite nie, niks is nie haalbaar nie en ek dink dis die geheim van Lemoenkloof,” sê Willem.

Die plan is om onder meer die konferensiefasiliteite met die jongste tegnologie toe te rus.

Die gebou kry ook ’n nuwe vooraansig, wat waarskynlik die nuwe Lemoenkloof Boutique Hotel-handelsmerk sal uitbeeld.

Die swembad-gebied het ook ’n paar opgraderings ondergaan.

Teen spyte van al die werk wat nog voorlê, is die onderneming se deure reeds oop.

Die Lemoenkloof Boutique Hotel is geleë op die hoek van Malan- en Hoofstraat in die Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.