Lektuurfonds kry nuwe logo voor 60ste

Die Christelike Lektuurfonds (CLF) op Wellington het pas, in aanloop tot die onderneming se viering van sy 60ste bestaansjaar, sy nuwe logo feestelik op Wellington bekendgestel.


Die Christelike Lektuurfonds (CLF) op Wellington het pas, in aanloop tot die onderneming se viering van sy 60ste bestaansjaar, sy nuwe logo feestelik op Wellington bekendgestel.

Die CLF is in 1957 deur ’n groepie jong sendelinge op Wellington gestig om in die behoefte aan Christelike leesstof by nuwe kerke in die sendingveld te voorsien.

Daar was nie geld nie, maar die organisasie het dadelik begin om pamflette te druk wat as leesstof in die nuwe gemeentes op die sendingvelde gebruik kon word.

Hierdie werk het oor die afgelope 60 jaar dramaties gegroei en vandag gee die fonds jaarliks meer as twee miljoen pamflette in 20 tale uit wat gratis aan kerke voorsien word.

Ds. Japie du Plessis, ’n emerituspredikant en medestigter van die CLF in 1957, het die onlangse byeenkoms, waarop die onderneming se nuwe logo bekendgestel is, bygewoon.

Benewens die wye verskeidenheid pamflette wat jaarliks deur die CLF uitgegee word, gee die onderneming ook talle boeke uit wat handel oor missionêre werk, kategese asook Bybelstudiegidse. Een van die projekte waarmee die fonds tans besig is, is om een miljoen Bybels aan een miljoen kinders in hul verskillende tale te voorsien.

As deel van die viering van hul 60ste bestaansjaar het die fonds nie alleen ’n nuwe logo bekendgestel nie, maar ook ’n slimfoontoepassing ontwikkel waarmee die boodskap van hul Engelse pamflette op kragtige wyse versterk kan word.

Die 60ste bestaansjaar sal in 2017 ook feestelik gevier word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.