Om jou verjaardag te kan vier, is ’n voorreg, nie ’n reg nie. Dis my beskeie mening as ek hier knap voor die viering van my geboortedag hieroor bepeins.

Ek is nou maar eenmaal een van daai mense wat so ’n bietjie liries kan raak oor my verjaardag. Kyk hier, ek laat weet mense sommer al drie weke voor die tyd wanneer die groot dag in my lewe sal geskied. Daai kinderlike opgewondenheid oor my spesiale dag sal niks of niemand van my kan wegneem nie.

En is dit nie juis een van die kosbare geheime en wyshede in hierdie lewe nie – om daai kinderlike gesindheid (ingesteldheid) en onskuld ook in jou volwasse jare te behou? Dit maak die lewe net soveel mooier en interessanter.

Dink maar net aan jou eie sonstraalkind en dié se uitermatige opgewondenheid oor daai spesiale dag. Daar is hordes versoeke op daai wenslysie vir die groot dag. Maatjies moet genooi word vir die makietie. Daar moet ’n springkasteel wees. Die verjaardagkoek moenie agterbly nie. Geskenke van Pappa en Mamma is ’n vereiste. By die makietie moet die verjaardagliedjie gesing word en die nege kersies op die koek doodgeblaas word. En vir dié wat dan nou fênsie wil wees, word die groot makietie sommer in ’n bekende gesinsrestaurant gehou. En elke oomblik van die groot dag word netjies op kamera vasgelê en sommer deesdae ook op sosiale- media-platforms gedeel. Wat ’n stuk vreugde om daardie kinderogies te sien skitter op so ’n spesiale dag.

Ek dink sommer onwillekeurig terug aan my eie kinderjare en partytjies. Daar was nie sprake van ’n partytjie op my verjaardag nie. Die rede was eenvoudig – daar was net nie die ekstra geld om nog op ’n partytjie uit te gee nie. Die brood-en-botter-sake was prioriteit nommer een. My kinderverstand kon dit bloot nie begryp nie. Ek wou ook net een keer voel hoe dit voel om ’n verjaardag te kon vier. Ek was maar tien of elf jaar oud en het besluit om self ’n plan te maak. Wie kan nog onthou hoe jy destyds koeldrankbottels kon ingee en dan ’n paar rand daarvoor kry? Doen mense dit nog? Wel, dit was my plan. As ek genoeg bottels bymekaar kon maak, dan sou ek genoeg geld hê om my eie eerste verjaardagpartytjie te hou.

Die groot dag het aangebreek en my plan het geslaag. Die partytjie was eenvoudig, maar dit was my partytjie. Daar was eetgoed, koeldrank en maatjies om die spesiale dag saam met my te kon deel. Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Van toe af was dit vir my baie belangrik om elke verjaardag van my spesiaal te maak, al is dit net om ander te vertel van my groot dag en hulle in my vreugde kan deel. En juis hier diep ná vier dekades in my lewe raak ’n mens al meer bewus elke jaar by jou lewe gevoeg is net genade van Bo; jy kan niks as vanselfsprekend aanvaar nie.

Die verjaardagkoek en kersies maak nie meer saak nie, want daar is ander dinge wat nou prioriteit geniet – jou gesondheid, die waarde van familie, vriende en kennisse, en natuurlik daardie boodskap van gelukwensing wat jou spesiale dag net ekstra spesiaal maak.

Die klein dingetjies in die lewe word belangriker sonder om die sprankel in jou siel te verloor. Jy waardeer daai klein dingetjies al meer en is tevrede daarmee, want glo my, dit kon so anders gewees het. As ek deesdae – soos die meeste van ons – lees van die gevare wat rondom kinders en jongmense skuil, dan breek dit ’n mens se hart. Ons kinders raak net weg. Ons kinders word vir dood agtergelaat. Ons kinders word ontneem van die geleentheid om ’n volgende verjaardagpartytjie saam met hul maats te geniet. Meer as ooit tevore wil ’n mens jouself afvra waarheen ons mooi land op pad is. Respek vir die gawe van lewe word by die dag al minder.

En al wat ons kan doen, is om met nog meer erns te bid vir ons land en al sy mense. Daarmee saam hoop ek dat ons almal die spreekwoordelike my kind is jou kind met nog meer erns sal benader en toepas.

My wens is dat ons almal, jonk of oud, die voorreg sal hê om nog ’n verjaardag met ’n sprankel in die oog te vier en dat ons ten spyte van al die hartseer en negatiwiteit (soms) in ons land bly sal wees saam met ander vir die vreugdesoomblikke in hul lewe . . . oor die vier van ’n verjaardag.

Dit is ook my gebed en wens dat ons nooit die rede sal wees dat jou medemens nie die voorreg sal hê om ’n volgende lewensjaar tegemoet te gaan nie. En wanneer ek eersdaags my nuwe lewensjaar verwelkom, doen ek dit met ’n nederige en dankbare hart, want niemand van ons is daardie spesiale dag gewaarborg nie. Dit bly ’n voorreg om dit met al die spesiale mense in jou lewe te deel en te vier.

Mag jou verjaardag hierdie jaar sommer ekstra spesiaal wees!

You need to be Logged In to leave a comment.