Dit is oor en oor bewys dat lees van deurslaggewende belang is vir kinders se opvoeding. En die vakansietyd is ’n baie goeie geleentheid vir kinders om te lees en vir die jongeres te lees.
Elke boek kan ook gewen word. WhatsApp vir ons jou naam en die naam van die boek wat op jou wenslys is na 066 484 3728. Stuur ook die naam van jou tweede keuse.
Reis saam na die Nimmer-Immer-Bos, waar ’n wêreld van stories wag! Hier is sestig tydlose verhale, uitgesoek en oorvertel deur Linda Rode. Fiona Moodie se illustrasies is handgeverfde droënaald-etse en maak van die boek ’n kunsskat om te waardeer en te bewaar. Dit is ’n besonderse boek wat nie net kinderharte sal steel nie, maar dié van almal wat dit onder oë kry.
Uit die pen van Paula Fourie en die verfkwas van Emily House kom die pragtige verhaal van Die hond met die stert sonder swaai. Jakkals word wakker met ’n stert wat nie wil swaai nie. Is sy dalk siek? Kan ’n hond se stert net skielik breek? Haar mense is bekommerd, maar dis Lolliepop, Jakkals se beste maat, wat raai wat fout is. Hulle twee swem mos graag in die dam, waar Jakkals duik en rol soos ’n wafferse walvis. Al wat Jakkals nodig het om beter te word, is iemand wat verstaan, soos Lolliepop!
Speurhond Willem in die Amasone is Adriaan en Willem se negende avontuur as geheime agente van die Internasionale Speurdiens.
Adriaan sien nie juis uit na die skoolvakansie nie. Hulle moet ’n geografie-taak oor die Amasone doen. Maar voor hy “anakonda” kan sê, is hy en Willem nader aan die oerwoud as wat hulle ooit kon raai, met ’n geslepe ou vyand op hul spoor . . .
Drie-in-een! Die eerste avonture van Willem en Adriaan is saamgegooi in hierdie lekkerlees-bundel, weer geïllustreer deur Chris Venter. Vir self-lees of saam-lees: ons twee onverskrokke helde toer eers deur Europa, red dan ’n klomp toeriste van seerowers in die Indiese Oseaan, en gaan kuier dan by Tannie Lolla in die Bosveld.
Uit die pen van Verna Vels kom stories oor almal se gunsteling-heks, Liewe Heksie, wat al geslagte lank kinders vermaak. Die onskuldige, vriendelike heksie, Levinia, en al die bewoners van Blommeland laat oud en jonk steeds skater met hul manewales.
Vian Oelofsen se lewendige illustrasies sorg dat Liewe Heksie en haar maats se avonture nog net so bekoorlik is soos altyd. Hierdie omnibus bevat 10 van die gewildste Liewe Heksie-stories, met eenvoudige teks en kleurvolle prente om dit perfek te maak vir voorlees en beginners wat self lees.
Hondman is terug en hierdie keer is hy nie alleen nie. Die hond met ’n regte neus vir geregtigheid het nou ’n helper, Kleinkat, en saam het hulle ’n raaiselagtige dilemma om op te los! Wanneer ’n nuwe katoppasser opdaag en ’n glansryke rolprentster verdwyn, hang dit van Hondman en Kleinkat af om die dag te red. Sal hierdie helde warm op die spoor bly of sal hulle op ’n dwaalspoor beland? Hierdie is ’n heerlik interaktiewe strokiesboek van Dav Pilkey.
Het jy al ooit ’n goor week gehad? Justin Chase het, en dis hoekom Justin het die GOORSTE WEEK OOIT!sy verhaal vertel. Sy ma het pas met ’n vampier getrou. Sy pa ry ’n reuse- toilet op wiele. Sy kat is waarskynlik deur vreemde wesens ontvoer. ’n Boelie maak sy eerste dag by ’n nuwe skool hel. Op die oomblik hang hy voor sy hele klas aan die rand van ’n duiktoring met ’n gehekelde swembroek wat besig is om vinnig te verdwyn! Net toe Justin dink Maandag is verby, daag nog ’n goorste dag op – DINSDAG! Matt Cosgrove, Eva Amores en Kobus Geldenhuys vertel hierdie pretbelaaide stories. Geskik vir jong lesers tussen 10 en 12 jaar.
Ahooi daar, skarminkels! Grootgaapbaai word oorval deur rotte – groot rotte, klein rotte, kwaai rotte en honger rotte. Gelukkig bied ’n geheimsinnige towerfluitspeler, Rufus Rottus, aan om van die knaagdierprobleem ontslae te raak – teen betaling. Wanneer die gulsige burgemeester egter weier om die towerfluitspeler vir sy dienste te betaal, speel hy ’n betowerde deuntjie en lei al die kinders in Grootgaapbaai weg. Sal Matilda, Basjan en die Van der Branders hulle kan red?
Dit is die vierde titel in die gewilde Seerower-reeks en ’n lekker leeservaring vir kinders wat pas hul eerste hoofstukboeke begin lees het.. Hou Paarl Post in die volgende paar weke voor Kersfees dop vir nog lekker boeke-kompetisies – net reg vir die vakansietyd.





