“Met hierdie leesprogram is daar weer hoop.”
Só sê Charmaine Rhoda, sameroeper van die Doen, leer en lees-projek.
Rhoda en haar span van 10 vrywilligers bied die afgelope jaar hierdie leesprojek aan by die Breytenbach-sentrum. Elke Maandag en Woensdag besoek hulle vyf primêre skole, naamlik Pauw Gedenk, St Albans, Hillcrest, Groenberg en Windmeul, waar hulle vir jongelinge leer hoeveel pret lees is.
Baie van hierdie leerders kom vanuit gemeenskappe waar lees nie in hul kultuur is nie en hulle sukkel werklik om vlot te leer lees.
Veral leerders met lees- en skryfprobleme wat spesiale hulp nodig het, word aan Rhoda en haar span uitgewys. Sowat 90 kinders is hierby betrokke.
Die projek is aan die Breytenbach-sentrum deur die ATKV-Stellenbosch voorgestel. Hierdeur word leerders op ’n opvoedkundige, maar speel-speel manier geleer hoe om te lees.
Opvoedkundige speletjies help die kinders hiermee en so raak hulle ook vertroud en gemaklik met hul opvoeders.
Rhoda, ’n oudonderwyser en sameroeper van die projek, het gesê dat die projek in slegs ’n paar maande baie sukses getoon het.
“As jy kan lees en skryf, kan jy enigiets vermag. Ons bied ons klasse op ’n praktiese manier aan sodat ons op die kind se vlak kan kom.”
Volgens Rhoda sukkel die meeste skole met lees as gevolg van onder andere oorvol klasse. Met die leesprojek help die fasiliteerders gedurende skooltyd ook die onderwysers met onderrig.
“Ons doen weer klank- en leesmetodes soos in die ou dae. Ons wil hê kinders moet ook meer dikwels biblioteke besoek soos destyds.”
Verder vertel sy dat die leerders waarby hulle tot dusver betrokke was met die leesprojek, tans baie goed vaar op skool. Sommige van die leerders het selfs sertifikate ontvang as gevolg van die leesprogram.
“Vandag kan ek sien hoe opgewonde die kinders raak as ons by die klasse instap. Hulle hang aan die fasiliteerders se lippe, so gretig is hulle nou om te leer.”
Rhoda se wenk aan ouers is om meer stories vir hul kinders te vertel, sodat kinders op ’n vroeë ouderdom ’n liefde vir lees kan ontwikkel.