Die Hoër Meisieskool Paarl se verbruikerstudieleerders het onlangs puik presteer by die jaarlikse All Girls-fees wat gesamentlik deur Hoër Meisieskool Paarl en La Rochelle aangebied is. In die Boland Cuisine-kompetisie is die leerders getrakteer op drie dae van uitstappies, demonstrasies deur professionele sjefs en deelname aan ’n kookkompetisie by die Hurst Campus se sjefskool. Altesaam 12 verskillende meisieskole het met 15 spanne van twee leerders per span deelgeneem. Hulle moes binne twee uur ’n fynproewer-pizza en vrugtetertjie skep en al twee spanne het uitstekend gevaar. Olivia White en Jana Klein van HMS Paarl is as die algehele wenners gekroon. Bo verskyn hulle saam met die beoordelaars en hul skool se mededeelnemers. Agter van links is Jolida Roux (HMS se fotograaf), die sjef Hennie van der Merwe (Hurst Campus), Olivia White, Jana Klein, die sjef Jenny Morris (beoordelaar) en Rebecca Hurst (hoof van Hurst-sjefskool). Voor is Alexandra Avis en Jenna-Lee du Plessis.