Die gr. 3-leerders van LK Zeeman Primêr is gereed om hul talent ten toon te stel.


Die Frank Pietersen-musieksentrum hou Saterdag 22 Oktober om 15:00 sy Schools Extravanganza-konsert met leerders wat in die oggende by verskeie skole musieklesse ontvang.

Die konsert word vanjaar in die Paarl-stadsaal gehou en leerders van Dalweide Primêr, New Orleans Primêr, die Laerskool Paarl Gimnasium, LK Zeeman Primêr en die Hoërskool Noorder Paarl tree op.

Die musieksentrum se personeel reik in die oggende uit na verskeie Paarlse skole en gee musieklesse by skole waar musiek nie as vak aangebied word nie, of in skole waar ’n behoefte aan onderrig in ’n spesifieke instrument beestaan.

Baie leerders begin met blokfluit-onderrig in groepe en beweeg dan aan na individuele onderrig in blokfluit of veral hout- en koperblaasinstrumente.

Baie leerders het ook in groepsverband met vioollesse begin en gaan nou in groepies van twee of drie met hul lesse voort.

Die Frank Pietersen- senior blaasorkes en drie senior viool-leerders van die musieksentrum sal ook optree.

Die konsert bied die geleentheid vir leerders om mekaar te sien optree asook vir hul ouers om te ervaar wat hul kinders geleer het.

Die publiek asook inwoners van ouetehuise is ook welkom om die geleentheid by te woon.

Toegang na die konsert is gratis vir almal. Mense wat egter ’n skenking wil gee, is welkom om dit te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.