Weltevrede Sekondêr het ’n baie bedrywige Oudstudentebond wat ’n passie het vir sy ou skool en die “WeeTee”-leerders.
Dié bond poog jaarliks om iets spesiaals vir die matrieks en hul ouers aan te bied.
Saterdag is ’n formele ontbyt vir gaste voorgesit. Die doel was dan ook om die leerders aan die korrekte etiket by ’n formele geleentheid bloot te stel.
Hulle is op ’n voorgereg en hoofgereg getrakteer en die maal is met ’n soetigheid afgesluit.
Rodger Adams, die huidige voorsitter, het ook as seremoniemeester opgetree. Die skriflesing en gebed is deur pastoor Eben Mouries behartig. Die gasspreker was ’n leerder, Johan Links, wat tans hoofseun van Bergrivier Sekondêr is.
Hy is ’n jong man wat uit baie moeilike omstandighede en swaarkry sy lewe kon omkeer om bo sy omstandighede uit te styg. Sy dinamiese aanbieding het groot aanklank by die gehoor gevind.