Die Trusteeraad van die Hugenote Gedenkskool in Kleinbosch, Dal Josafat, in die Paarl bied hul jaarlikse Skerpskryf-kompetisie in samewerking met die Paarl Post-koerant aan.

Met die eksamens en toetse wat reeds aan die gang was, asook die skoolvakansie wat gevolg het, is ongelukkig nie genoeg inskrywings van skole in die Drakensteinvallei ontvang nie.

Gevolglik is besluit om die kompetisie vir gr. 9- tot gr. 11- leerders tot Vrydag 3 November te verleng.

Leerders van gr. 9 tot gr. 11 word aangemoedig om deel te neem deur in Afrikaans te skryf. Alle leerders wat lief is vir hul taal en skryf, word genooi om ’n rubriek te skryf met die onderwerp “Afrikaans, my taal”.

Hulle kan hul verbeelding laat gaan met die skryf van ’n rubriek hieroor – dit kan ernstig of ligsinnig wees, maar moet uitbeeld hoe hulle oor hul taal en die voortbestaan van Afrikaans as taal voel.

Leerders kan in drie afdelings inskryf. Gr. 9- en gr. 10-leerders se opstel moet 300 woorde beslaan en gr. 11’s s’n 350 woorde.

Talle geskenkbewyse is vir die top-drie leerders uit elke graad asook vir die algehele graadwenners se skool te wen.

Stuur inskrywings na hugenotegedenkskool@gmail.com

’n Skerpskryf-werksessie word Saterdag 3 Februarie 2024 aangebied.

Wenners se rubrieke en foto’s sal ook in Paarl Post gepubliseer word.

You need to be Logged In to leave a comment.