Twee leerders is verlede week in ’n messteekvoorval in Suikerbekkiestraat, Paarl-Oos, beseer.
Kapt. Basil Seekoei, woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het die voorval bevestig waarby ’n leerder van LK Zeeman Primêr betrokke was. Die voorval het verlede Woensdag (22 Mei) omstreeks 15:30 buite die skoolterrein plaasgevind. Dit kon nie bevestig word of die tweede leerder wat beseer is en dié leerder, wat beskou word as die verdagte, ook leerders aan dieselfde skool is nie.
“Paarl-Oos-speurders ondersoek ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die voorval het ontstaan nadat leerders glo ’n onderonsie oor vervoer gehad het.”
Seekoei sê daar word beweer die een leerder het ’n skerp voorwerp geneem en die ander leerder daarmee gesteek. Seekoei voeg by dat die saak ondersoek word en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
Navrae is gestuur aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) waarop Unathi Booi, ’n woordvoerder, geantwoord het.
“’n Leerder van ’n ander skool is na bewering by die skoolterrein afgelaai en het na die gebied gegaan waar leerders vir hul vervoer gewag het. Hy het na bewering in een van die busse geklim en ’n bakleiery het in die bus uitgebreek.
“Die leerder het na bewering ’n ander leerder met ’n mes gedreig. ’n Graad 12-leerder van die skool is met die mes gesteek terwyl hy probeer ingryp het. Die polisie is ontbied en die leerder is hospitaal toe gehaas. Die leerder herstel goed. Die WKOD het die skool van beradingsondersteuning voorsien.”


