Die ouers van ’n serebraal gestremde tiener eis antwoorde nadat hul dogter ’n ernstige besering by die skool opgedoen het.

Die 14-jarige meisie is ’n leerder aan die Ligstraal-skool vir gestremdes in die Paarl.

Volgens haar ma, wat nie haar naam wil laat noem nie om haar minderjarige kind te beskerm, het haar dogter verlede Maandag saam met ander leerders vir ’n konsert in die gemeenskapsaal geoefen.

“Toe ek Maandagmiddag vir die juffrou ’n boodskap stuur om te hoor of hulle by die saal of die skool is en waar ek my kind moet oplaai, het sy nie my boodskap beantwoord nie. Toe ek om 13:45 van die werk af ry, het ek die juffrou weer gebel en weer gevra waar ek my dogter moet oplaai. Sy het toe gesê hulle is by die skool en het my meegedeel my kind se voet het seergekry. Ek het by die skool aangekom en die juffrou sê toe my kind is by die verpleegster se kantoor.

“Toe ek by die verpleegster kom, wou sy by my weet wat makeer my kind se voet. Ek het gevra wat sy bedoel en of hulle insinueer dat ek die kind die oggend so by die skool afgelaai het. Die juffrou het sê die kind was fine op die bus, maar toe sy van die bus af kom, moes haar voet óf by die bus se band óf uitlaatpyp of iewers aan die bus gebrand het.”

Die ma, wat met rede ontsteld is en antwoorde eis, sê volgens personeellede het die kind glad nie gehuil toe sy die besering opgedoen het nie. “Ek sidder om te dink dat ’n kind nie kan huil as sy só seerkry nie. Ons brand met ’n bietjie kookwater en stoom, dan is dit seer. Niemand van die personeel weet wat regtig gebeur het nie. Ek het haar ongevalle toe geneem. Die skoolhoof het my Woensdagoggend die eerste keer gebel. Sy het ook nie antwoorde vir my nie.”

Die ma voel toe haar dogter die besering opgedoen het, moes die skool haar onmiddellik gebel het. Sy voel ook hulle het niks regtig probeer doen om haar kind te help nie. “Die ergste van alles is hulle weet sy kan nie loop of praat nie, so sy kon haarself nie in daai situasie gekry het nie, en hulle weet ook sy gaan nooit kan praat om te sê presies wat het gebeur nie.”

Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepar­tement (WKOD), sê: “Navrae oor wat gebeur het, is gedoen. Die beserings was glo weens die kind se voet wat aan die bus se uitlaatpyp geraak het. Die besering is eers ontdek toe die leerder by die klaskamer gekom het. Die hoof was in kontak met die leerder se ouers en distriksgebaseerde sielkundiges sal steun aan die gesin beskikbaar stel.”

You need to be Logged In to leave a comment.