’n Nuwe tegnologiese diens bekend as ChatGPT is einde verlede jaar geloods. Hierdie kunsmatige intelligensie (KI)-robot kan menslike antwoorde genereer op vrae wat aan dit gerig word.
Dit is ’n hulpmiddel wat kan help met die skryf van items soos artikels, opstelle, e-posse en meer. Ten spyte daarvan dat baie baat kan vind by die tegnologie, het die bekommernis ontstaan dat dit nie kritiese denke, veral onder leerders, aanmoedig nie.
Die webtuiste techtarget.com definieer ChatGPT as volg: “ ’n KI-kletsrobot wat natuurlike taalverwerking gebruik om menslike gespreksdialoog te skep. Die taalmodel kan op vrae reageer en verskeie geskrewe inhoud saamstel, insluitend artikels, sosiale media plasings, opstelle, kode en e-posse. ChatGPT is soortgelyk aan die outomatiese kletsdienste wat op kliëntedienswebwerwe gevind word, aangesien mense dit vrae kan stel of ’n verduideliking van ChatGPT se antwoorde kan versoek.”
Marlene Dreyer, operasionele bestuurder van Hoër Meisieskool Paarl se inligtingstegnologie-departement, sê ChatGPT is nie direk in hul skool se kurrikulum ingebou nie, maar hulle bied leerders die geleentheid om gebruik te maak van die tegnologie.
“Die vinnige ontwikkeling van tegnologie kan nie ignoreer word nie en ons moet leerders voorberei vir die lewe ná skool waarin KI ’n beduidende rol sal speel. Ons is nie streng spesifiek oor die grade waarin ChatGPT gebruik word nie, maar dit word meer deur gr. 10 tot gr. 12-leerders en in sekere vakke benut.
“Leerders kan baatvind by die aanvullende hulpbronne, die bevordering van selfstandige leer en die ontwikkeling van vaardighede wat relevant is vir die toekomstige arbeidsmark waarin KI ’n belangrike rol sal speel.
“Leerders moet egter bewus wees dat ChatGPT nie hul denke moet of kan vervang nie. Hulle moenie net blindelings die antwoorde aanvaar nie, maar die inligting krities ondersoek, met ander bronne vergelyk en evalueer. Dit behels die nadenke oor die korrektheid, relevansie en betroubaarheid van die inligting wat hulle ontvang.”
Dreyer meen die voordele wat ChatGPT insluit vir leerders, is hulp met navorsing en studiemateriaal, stimulering van kritiese denke, bevordering van selfstandige leer en voorbereiding vir die toekoms.
Onderwysers speel ’n belangrike rol in die begeleiding van die gebruik van KI-tegnologie soos ChatGPT, voeg Dreyer by.
Sy sê onderwysers moet verseker die tegnologie word waardevol en verantwoordelik gebruik om die leerervaring van leerders te verbeter.
“Dit is belangrik om die implementering van KI-tegnologie soos ChatGPT in die klaskamer te beplan en te monitor en om voortdurend die voordele, uitdagings en potensiële impak op leerders te evalueer.
“ChatGPT kan ook ’n nuttige hulpbron vir onderwysers wees. Dit kan help om inligting en hulpbronmateriaal aan te vul, aanvullende oefeninge of voorbeelde te bied, en selfs as ’n hulpmiddel dien vir die skep van assesseringsopdragte of lesbeplanning.”
KI ontwikkel voortdurend met nuwe tegnologieë wat byna elke dag vrygestel word, en ChatGPT is slegs een van sulke programme, sê Dreyer.
“Deur op hoogte te bly van nuwe KI-tegnologieë kan onderwysers beter toegerus word om leerders voor te berei op ’n wêreld wat deur KI beïnvloed word. Dit bied die geleentheid om nuwe hulpmiddels en hulpbronne in die klaskamer te implementeer – wat die leerervaring kan verbeter en leerders kan voorberei vir toekomstige uitdagings.”
Hoër Meisieskool Paarl se skoolhoof, Mariana van Zyl, het in haar onlangse kwartaalbrief geskryf dat KI gebaseer is op voorspelling, aangesien dit gebruik maak van algoritmes en data om ingeligte voorspellings of skattings oor toekomstige uitkomste te maak.
“Laat ons nooit vergeet dat mense die vermoë en potensiaal het om te oordeel en keuses te maak wat hulle van ’n rekenaar of algoritme onderskei nie. Daarom sal ons nie KI ignoreer of ons leerders ontneem om ChatGPT te gebruik nie. Dit is die verantwoordelike implementering van tegnologie wat altyd ons hoofprioriteit sal wees.”