Die Wellingtonse boorling en professor in Afrikaans-onderwys, Michael le Cordeur, is as die nuwe voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) aangewys. Hy volg die legendariese aktrise Sandra Prinsloo op, wat die pos die afgelope vyf jaar beklee het en nou as ondervoorsitter sal dien.
Prof. Le Cordeur, tans visedekaan vir onderrig en leer aan die Universiteit Stellenbosch (US), bring ’n rykdom ervaring en passie vir taal en onderwys na die SAAWK.
Hy beskou sy rol as voorsitter as ’n geleentheid om sy lewenslange toewyding tot leesonderrig en die bevordering van Afrikaans verder te versterk.
Le Cordeur het ’n noemenswaardige akademiese loopbaan agter die rug, met internasionale en nasionale publikasies oor taal en onderwys.
Hy het sy studie aan die Universiteit van Wes-Kaapland onder mentors soos prof. Jakes Gerwel begin en later sy doktorsgraad aan die US verwerf met navorsing oor leesontwikkeling en die media.
Hy is ’n aktiewe rubriekskrywer ook, en sy betrokkenheid by fondse soos die Het Jan Marais Nasionale Fonds en die Rapport-onderwysfonds beklemtoon sy toewyding tot gehalteonderwys.
Sy geskrewe werke sluit boeke oor aktuele onderwyskwessies in, soos Davy Samaai: Kampioen van die Struggle (2020) en Covid: Krisis en geleenthede vir die onderwys (2022). Sy volgende boek, Reading for Comprehension, sal spesifiek op leesonderrig en -ontwikkeling fokus.
Le Cordeur se navorsing oor leesontwikkeling is nou verweef met die SAAWK se vlagskipprojek, die Zoë-leesprojek, wat reeds meer as 53 000 leerders en 530 skole landwyd bereik het.
Hierdie projek dien as ’n fondament vir die SAAWK se missie om Afrikaans as kultuurerfenis en onderrigmedium te bevorder.
Le Cordeur is in 2020 met die Neville Alexander-prys vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans vereer.
Die SAAWK beskou sy aanstelling as ’n geleentheid om voort te bou op hul fokus op gemeenskapsbemagtiging deur taal- en onderwysinisiatiewe.
“Ons sien daarna uit om nuwe hoogtes saam met prof. Le Cordeur in die bevordering van taal, kultuur en onderwys te bereik,” het die SAAWK in ’n verklaring gesê.
.