Larries-onderwysers van die bestes

Die Hoër Meisieskool La Rochelle het hierdie week hulde gebring aan ’n groep onderwysers by die skool wat gedurende die nasionale seniorsertifikaateksamen nie net die skool nie, maar ook die vallei trots gemaak het.


Die Hoër Meisieskool La Rochelle het hierdie week hulde gebring aan ’n groep onderwysers by die skool wat gedurende die nasionale seniorsertifikaateksamen nie net die skool nie, maar ook die vallei trots gemaak het.

Dié onderwysers se vakgemiddeldes is onder die topdrie skole vir hul onderskeie vakke in die Kaapse Wynland Distrik.

“Hulle is vir ons kosbaar en die ruggraat wat ons gemeenskap staande hou,” het Elsabé Conradie, die skoolhoof van HMS La Rochelle, gesê.

Die prestasies is as volg: Suné Geldenhuys is eerste in die Kaapse Wynland vir besigheidstudies en vierde in die Wes-Kaap.

Adéle Bothma is vir wiskundige geletterdheid eerste in die Kaapse Wynland en vierde in die Wes-Kaap aangewys. Luzanne Oosthuizen is tweede vir Engels (eerste addisionele taal) in die Kaapse Wynland en derde in die Wes-Kaap. Tracy Meyer en Joerg Neethling is derde vir Engels as huistaal in die Kaapse Wynland en tiende in die Wes-Kaap. Hannetjie Naudé en Quinton Meades vir fisiese wetenskappe is derde in die Kaapse Wynland. Monika Burger vir lewenswetenskappe is eerste in die Kaapse Wynland en sewende in die Wes-Kaap. Christa Vos en Marné Pedro vir Afrikaans as huistaal is tweede in die Kaapse Wynland en tweede in die Wes-Kaap. Sonnet Vorster vir toerisme is eerste in die Kaapse Wynland. Maryke Muller en Shanje Maree vir Afrikaans (eerste addisionele taal) is tweede in die Kaapse Wynland en tweede in die Wes-Kaap. Danielle Viljoen vir geskiedenis is eerste in die Kaapse Wynland en sewende in die Wes-Kaap. Antoinette Kramer vir gasvryheidstudies is eerste in die Kaapse Wynland.

“Dankie meneer en juffrouens dat julle hierdie reusetaak, wat soms met onnodige en ongesonde druk gepaard gaan, met soveel liefde en omgee verrig.

“Dankie dat julle die kinders lief maak vir julle vakke en dan die wêreld instuur met selfvertroue en ’n huppel in hul stap,” sê Conradie trots.

“Dankie dat julle laat nagte en naweke omwerk om nota’s voor te berei vir julle leerders en uitreik na daardie leerder in die klas wat swaarkry, hetsy akademies, emosioneel of finansieel.

“Ons is deeglik bewus daarvan dat die onderwys ’n roeping is en dat julle nie hierdie beroep gekies het nie, maar dat die beroep julle gekies het. Julle maak ’n verskil en ons dorp en ons land ’n beter plek. Ons salueer julle.”

You need to be Logged In to leave a comment.