La Rochelle se kampioen-netbalspan: Voor (van links) is Christelle Greyling, Mischa du Toit, Maroné Uys (onderkaptein) en Esmari Valentine. Agter is Jade Atkins, Mia-Mickay Steenkamp (kaptein), Zarah Noah, Iselle Acker, Minette Retief. Die afrigter, Morné van Tonder, was afwesig.


Paarl se Hoër Meisieskool La Rochelle pronk nou met die louere as die beste o.18-netbalspan in die Wes-Kaap.

Larries se o.18-span het Paarl Gim op 24 Mei met 32-25 geklop en op 28 Mei was die eindtelling teen HMS Paarl 36-26 vir LaR.

Die afgelope Saterdag (8 Junie) het hierdie span al hul poelwedstryde by die Wes-Kaapse topskole-netbalkampioenskap gemaklik gewen.

Hul deursettingsvermoë en strategiese spel het hulle gehelp om hul teenstanders in die uitspeelwedstryde te klop: HS Stellenberg (LaR 25-22), Paarl Gimmasium (LaR 22-21) en HMS Paarl (LaR 27-19).

Hulle het dus eerste in die toernooi geëindig en sodoende hul plek as Wes-Kaap-kampioene by die gesogte DStv Schools Challenge by die Hoërskool Florida, wat op 11 en 13 Julie plaasvind, verseker.

Die onlangse wedstryde, wat agtereenvolgens gespeel is, het weer eens hierdie span se uitstekende vorm en oorheersing in die netbalarena bevestig.

HMS La Rochelle se o.18-netbalspan maak het hiermee geskiedenis gemaak en die spanne van Paarl Gim en Girls’ High twee keer in drie weke geklop.

Volgens Morné van Tonder, hul afrigter, het hy hulle aan die begin van die seisoen carte blanche gegee met die opdrag: gebruik die jaar om jul eie storie te skryf. Hy skryf hul sukses toe aan harde werk en toewyding.

Die skoolhoof, Elsabé Conradie, sê sy is baie opgewonde oor netbal by HMS La Rochelle. Sy reken die skool se uitstekende fasiliteite, goeie afrigters en programme asook betrokke ouers dra by tot die sukses.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article