Lank leef die ‘Paarl Post’ voort!

Die hoofartikel van 21 November was vol goeie nuus: Hoewel Media24 links en regs gedrukte koerante sluit (onder meer Rapport, Volksblad en Beeld), sal die Paarl Post in sy huidige formaat voortleef. Media24 het geliefde Bolandse koerante soos die Paa


Die hoofartikel van 21 November was vol goeie nuus: Hoewel Media24 links en regs gedrukte koerante sluit (onder meer Rapport, Volksblad en Beeld), sal die Paarl Post in sy huidige formaat voortleef. Media24 het geliefde Bolandse koerante soos die Paarl Post, Eikestadnuus en Weslander aan Novus Holdings verkoop.

Die Paarl Post is een van die oudste Afrikaanse publikasies in die land en dié transaksie beteken ’n vars begin vir die getroue “stem van Drakenstein”.

Novus Holdings is een van Afrika se grootste drukkers en hulle verbind hulle tot die ondersteuning van gemeenkapskoerante en die versterking van hul rol in plaaslike samelewings.

Die Paarl Post het op 14 Januarie 1905 die eerste keer verskyn – as die opvolger van Di Patriot. Di Patriot was die eerste Afrikaanse koerant in Suid-Afrika en het in 1875 in die Paarl tot stand gekom. Dit was die begin van die einde van Nederlands as skryftaal. Tot op daardie tydstip was Nederlands die skryftaal en Afrikaans die gesproke taal. Tussen 1860 en 1875 het talle Afrikaanse briewe reeds in Nederlandse tydskrifte in Suid-Afrika verskyn.

Ons woord “koerant” het ’n interessante pad geloop. Die eerste koerant in Nederland is courante novellen genoem, d.w.s. “hardlopende nuwighede”. Courante is afgelei van curro, Latyn vir “hardloop”, en novellen beteken “nuwighede” of “nuus” omdat dit uit die Latyn novus kom, wat “nuut” beteken. Die Nederlanders praat vandag van ’n krant, ’n ingekorte vorm van koerant.

Nou word die sirkel voltooi deurdat Novus (d.w.s. “nuut” of “nuus”) Holdings die eienaar is van ons eie courante novellen, ons “hardlopende nuwighede” of “nuus” – die Paarl Post.


Willem Botha,

Paarl

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.