Die wêreld se langste foefieslaaid open binnekort by Caledon.


Ná etlike jare van droom en beplan maak die langste foefieslaaid in die wêreld, wat net buite Caledon geleë is, amper sy deure vir die publiek oop

K3 SA Forest Adventures Caledon, soos dit bekend staan, gaan binnekort die wêreld se langste foefieslaaid wees – ’n hele 3,2 km.

Clinton Lerm, die eienaar van SA Forest Adventures, het aan Paarl Post se susterskoerant Hermanus Times bevestig die plan is om die K3-foefieslaaid binne die volgende maand te open, mits die weer saamspeel. “Ons het nie ’n datum nie, maar ons gee onsself nog so 30 dae,” sê Lerm.

Die K3-foefieslaaid is op private grond so 5 km van Caledon af langs die N2 duskant Myddleton gebou.

Die langste foefieslaaid-visie het al in 2016 by Lerm ontstaan.

“Ek het twee jaar lank ‘sites’ gesoek oor Suid-Afrika heen. Die perseel moes logisties asook prakties en toeganklik wees. Covid-19 het in 2020 ’n rol gespeel met die opening van die Knysna-foefieslaaids, wat later oopgemaak het, en dit het ook beteken dat ons nie so vinnig gevorder het met K3 soos wat ons wou nie,” sê hy.

Maar waarom Caledon in die Wes-Kaap en nie ’n ander ligging nie?

“SA Forest Adventures het besluit om die foefieslaaid net buite Caledon te bou want ons het reeds ’n tak naby Caledon Hotel & Spa, so Caledon lê ons nog altyd na aan die hart. Dit is ook baie naby aan Kaapstad, dus is dit maklik bereikbaar vir toeriste en plaaslike inwoners wat so iets op hul emmerskop-lysie wil afmerk.”

Lerm sê hy het eendag verby die berg gery, van waar die foefieslaaid begin, en het torings bo-op die berg gesien, wat beteken ’n pad is reeds gebou om tot bo te kom. Hy het later saam met ’n boer berg-op gery, en daar en dan besef dit is waar hy die langste foefieslaaid in die wêreld wil bou.

“Maar ek moes eers al my berekeninge doen en ek het gekyk van watter rigting af die wind waai – daar is ’n klomp faktore en dis nie net vir kabel span nie,” voeg Lerm by.

Die kabels en toerusting waarmee die kabel gespan moes word, is Maandag 27 Mei afgelaai, en die volgende dag (Dinsdag 28 Mei) is ’n gidskabel met ’n helikopter gespan. Die hoofkabels word binnekort gespan en dan sal toetse (en toetslopies) gedoen word om seker te maak alles werk klopdisselboom voordat die foefieslaaid vir die publiek kan open.

“Die foefieslaaidbedryf het die afgelope paar jaar baie verander. Ek was een van die ‘authors’ wat ná tien jaar die witskrif aanvaar het vir die installering en veiligheid van foefieslaaids in Suid-Afrika. Al ons foefieslaaids voldoen aan wetgewing, en dit is om te verseker dat veiligheid altyd ’n top-prioriteit is. Al kan ons self inspeksies op ons eie foefieslaaids doen, kry ons eksterne (derde-party-) mense in om te verseker dat ons foefieslaaids aan al die veiligheidsvereistes voldoen,” sê Lerm.

Met die K3-foefieslaaid het Lerm daarop gefokus om al die produkte wat op en rondom die foefieslaaid gebruik word, by plaaslike vervaardigers te koop, en 90% van die foefieslaaid se materiale is in Suid-Afrika vervaardig.

“Dit het ons baie meer gekos as om die produkte uit China te koop, maar ons wou so ver as moontlik plaaslik ondersteun. Dis juis waarom al ons personeellede by K3 ook almal uit die Caledon-omgewing kom,” vertel Lerm trots.

Fase een van die K3-foefieslaaid word binnekort geopen, maar om te verseker dat hulle die langste foefieslaaid in die wêreld bly, beplan Lerm en die span om oor ’n paar jaar ook ’n 5-km-foefieslaaid oop te maak.

“Ons begin met fase twee oor so jaar of twee. Ons wil die langste foefieslaaid in die wêreld bly,” sê Lerm.

SA Forest Adventures sal van sy ander produkte, soos sy vierwielmotorfietse (quad-bikes) in die nabye toekoms ook van daar af begin bemark en ’n koffiewinkel open sy deure binnekort ook op die perseel.

  • Hou SA Forest Adventures se sosialemediablaaie dop vir nog inligting oor die opening van die foefieslaaid.

You need to be Logged In to leave a comment.