Mense wag buite die departement van arbeid se kantoor in die Paarl. Foto: Jana Scheepers


’n Elle lange ry mense het die afgelope Vrydag (8 November) voor die departement van arbeid in die Paarl gestaan – tot in Van der Lingenstraat, waar mense vir staatstoelaes aansoek gedoen het.

Motoriste wat daagliks verby die gebou ry waarin die departement gehuisves is, is gewoond daaraan om die lang ry te sien, maar op dié betrokke dag het die ry die oë behoorlik laat rek.

Die Paarl Post is rondom 11:00 deur moeë gesigte begroet – sommige wat reeds van 05:00 af in die ry gestaan het, en ander wat reeds vir ’n tweede keer in die ry moes staan omdat hulle nie die vorige dag gehelp is nie.

Die departement van arbeid word gereeld gekritiseer deur kliënte wat beweer dat die kantoor se dienslewering “nie op standaard” is nie.

Drie mense het op voorwaarde van anonimiteit aan die koerant gesê hulle het nie werk nie en is reeds ’n tweede keer dié week daar om die kantoor te besoek in die hoop op ’n staatstoelae. Volgens hulle is hulle nog elke keer weggewys omdat die kantoor toegemaak het.

Hierdie ellelange ry het die vraag laat ontstaan of werkloosheid in die Drakenstein aan die groei is.

Volgens die sosio-ekonomiese profiel wat die Wes-Kaapse regering in 2021 oor die Drakenstein- munisipale gebied vrygestel het, het die gebied die tweede hoogste werkloosheidsyfer – 10% – in die Kaapse Wynland-distrik.

“Die Drakenstein-munisipaliteit het die tweede hoogste werkloosheidsyfer in die Kaapse Wynland-distrik en is bo die distrikskoers (15,4%) maar aansienlik onder die Wes-Kaapse werkloosheidsyfer (25,1%).”

Werkloosheid het vanaf 2015 (12,1%) tot 2021 (19,5%) verhoog, volgens die sosio-ekonomiese profiel.

Die profiel sê ook dat 101 101 mense in 2021 in diens geneem is, van wie 84 236 (83,3%) in die formele sektor en 16 865 (16,7%) in die informele sektor.

“Indiensneming in die formele sektor het ’n jaarlikse gemiddelde toename van slegs 0,2% vanaf 2016 tot 2020 terwyl die informele sektor ’n gemiddelde jaarlikse afname van 6% oor hierdie tydperk gehad het. Die informele sektor was dus verantwoordelik vir die meeste van die werksverliese in 2021.

“Dit is ’n bekommernis aangesien die informele ekonomie behoort te kan optree as ’n buffer gedurende tye van ekonomiese resessie,” lui die studie.

Statistiek Suid-Afrika se nuutste syfers van 2024 se tweede kwartaal dui aan dat daar tans 8,4 miljoen werkloses in die land teenoor 8,2 miljoen in 2023 is.

Jason Lloyd, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van arbeid, ontken dat enige kliënt op 7 en 8 November weggewys is.

“Alle kliënte by die departement van arbeid in die Paarl word daagliks van 07:30 tot 16:00 bygestaan – elke dag van die week,” sê Lloyd.

Hy sê ook dat die departement se rekenaarstelsel reeds sedert Oktober weer aanlyn is. Kliënte kan dit gebruik om hul werkloosheidsversekeringsfonds te eis, asook om “u-filing” in te vul.

“Om die standaard van dienste te verbeter, word maandelikse gemeenskapsuitreiking in verskillende gebiede in en om die Paarl gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.