Van links by die Groenberg se netbalspelers is rdl. Geo Carinus (KWDM), Shandene Fortuin (waarnemende skoolhoof), JC Müller (hoofbestuurder: Sonlia Vrugtepakhuis), Hugh Ross (vorige skoolhoof), skoolhoof Gloria Samson wat vroeër vanjaar uitgetree het, raadslid Geoffrey Ford (Wyk 31, Drakenstein-munisipaliteit) en dr. Elna von Schlicht.Foto: Christine Siebrits


Dit was ’n heuglike dag vir Groenberg Primêr toe dr. Elna von Schlicht (burgemeester van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit) hul pragtige nuwe sportbaan Saterdag 3 Junie geopen het.

Die baan is veeldoelig en kan vir netbal, tennis en vlugbal gebruik word.

Gloria Samson, voormalige skoolhoof, het in haar toespraak vertel van die vooruitgang van netbal by die skool. In die eerste wedstryd kon die spelers nie ’n enkele doel kry nie, maar hulle het gaandeweg verbeter en die verwagting is hoog dat hulle een van die dae mededingend sal wees.

Die opgewonde netbalspelers het ook vir die eerste keer hul nuwe netbaluitrustings gedra wat geskenk is deur Kenako Sportswear and Williams Creations.

Twee ander skole se netbalspelers het die geleentheid met hulle gedeel, naamlik St. Albans Primêr en Van Wyksvlei Primêr. Vir die seuns was daar ’n potjiekoskompetisie.

In haar toespraak het dr. Von Schlicht nog verblydende nuus met die teenwoordiges gedeel. Binnekort begin werk aan die rugbyveld by die skool en uiteindelik sal daar ook ’n pawiljoen wees.

Groenberg Primêr het tans 159 leerders van gr. R tot gr. 7. Daar heers groot opgewondenheid oor die nuwe verwikkelinge by die skool.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article