Rachel Juries sê sy is raadop oor die onophoudelike muf wat regdeur haar huis by die Vlakkeland Agri Village voorkom. Foto: Rasaad Adams


Nadat hulle as deel van ’n hervestigingsprogram van hul plase na ’n woonbuurt naby Vlakkeland tussen die Paarl en Wellington verskuif is, was ’n groep landbouwerkers dankbaar om nog ’n dak oor hul kop te kan hê.

Dié plaaswerkers bevraagteken egter nou die veiligheid en gesondheid van die Vlakkeland Agri Village te midde van onophoudelike muf teen binnemure en die beweerde strukturele agteruitgang van baie van die wooneenhede.

Die sogenaamde hervestigingsprogram is een wat deur verskeie plase in die wynlande gevolg word as ’n alternatief vir verpligte uitsettings.

In hierdie geval het plaaseienaars laekostebehuising geïdentifiseer en dek hulle die koste om die wooneenhede aan die landbouwerkers en voormalige werkers oor te dra.

Een van die plase wat sy werkers na die woonbuurt verskuif het, is Kleinbosch Augusta in die Paarl.

Kleinbosch Augusta is ná ’n verwoestende brand in 2017 deur sy Duitse eienaar so te sê verlate gelaat.

Die plaas word vandag deur die Babylonstoren- handelsnaam besit, waarvan die bekendesakeman Koos Bekker die eienaar is.

Dit is juis met dié dat Babylonstoren oorgeneem het, dat die landbouwerkers elders verskuif is.

Rachel Juries, wat in September 2023 saam met haar gesin van die Kleinbosch Augusta-plaas na die woonbuurt verskuif is, het met Paarl Post se besoek gesê die probleme met die huise “hou net nie op nie”.

“Dit is glad nie wat ons belowe is voordat ons hierheen getrek het nie.

“Ons lewe was baie beter op die plaas.

“Daar het ons veilig gevoel. Hier moet ’n mens vrees vir jou lewe, want hier is geen sekuriteit nie.

“Hulle het ons belowe dat hierdie soos ’n kompleks bestuur sal word; dat daar sekuriteit sal wees.

“Hier was ’n vreemde man wie se hele lyf amper by ons kamervenster in was. As ek nie op hom afgekom het nie, was hy binne-in ons huis.

“Enigiemand kan hier in- en uitbeweeg. Ons het ook nie eens straatligte nie.

“Dit is nagdonker hier in die aand,” het Juries gesê.

Volgens haar ervaar die grootste deel van die woonbuurt probleme met muf teen die wooneenhede se dakke en mure.

“Alles is pikswart! Ek kan nie eens portrette hang nie, want die mure lyk verskriklik. In die winter loop die water teen die mure af. Hierdie huise is vrot gebou en glad nie wat ons belowe is nie. Ons kan nie so lewe nie.

“My seun se splinternuwe tekkies het ook glad muf op. Klere wat in kaste hang, loop ook deur.”

Nog muf is sigbaar teen Julies se muur. Foto: Rasa

Nog muf is sigbaar teen Juries se muur. Foto: Rasaad Adams

Volgens Juries is verskeie pogings al aangewend om by die kern van die muf-probleem te kom, maar die mure is dan net gewas en oorgeverf.

Van die ander inwoners het met Paarl Post se besoek die bou­kontrakteurs daarvan beskuldig dat die nodige bouregulasies nie gevolg is nie.

“Hulle het sommer mense hier van die straat af gekry om die huise te kom bou. Een klong het selfs aan my erken dat hy besluit het om die werk te los, want hy kon dit nie oor sy hart kry dat daar so gemors word nie,” het een inwoner, wat anoniem wou bly, gesê.

Toe Paarl Post vier wooneenhede op elke hoek van die kompleks gaan besoek het, was swart muf sigbaar op feitlike elke huis se dak en teen die mure.

Ander klagtes het ook ingesluit die nou paaie in die kompleks, die beperkte ruimte tussen wooneenhede en dat daar geen buitekrane by enige van die eenhede is nie.

“Dit is ’n brandgevaar. Kyk hoe naby is hierdie huise aan mekaar.

“As hier ’n brand moet uitbreek gaan dit baie vinnig van die een huis na die ander versprei. Ons het nie ’n enkele kraan hier buite vir sulke voorvalle nie,” het nog ’n inwoner, Lisbey van Niekerk, gesê.

“Almal van ons het jare lank op plase gewerk en gewoon. Ons het ’n gemaklike lewe ons in ons vorige huise gehad.

“Ons is net hier kom neerplak en aan ons eie genade oorgelaat. Die probleme word gerapporteer, maar daar is geen haas om dit kom regstel nie,” het sy bygevoeg.

Die Vlakkeland Agri Village-woonbuurt in Jan van R

Die Vlakkeland Agri Village-woonbuurt in Jan van Riebeeckweg tussen die Paarl en Wellington. Foto: Rasaad Adams

Riaan Marx, ’n plaaslike ontwikkelaar wat by hierdie laekostebehuisingsprojek betrokke was, het egter vandeesweek by navraag die probleem met die muf aan ’n gebrek aan behoorlike ventilasie toegeskryf.

“As jy in ’n vertrek is saam met drie tot vier ander mense en jy maak niks deure of vensters oop nie, dan is dit asof alles klam begin raak.

“Daar is ook ander goed soos wanneer jy kos kook en nie die wasem laat ontsnap nie.

“Ons boodskap aan hierdie inwoners is dus om te verseker dat daar genoeg ventilasie is,” het Marx benadruk.

Volgens hom voldoen die wooneenhede aan die nodige bouregulasies.

“Hierdie is uitstekende huise. Dit is in ’n baie goeie toestand aan die mense oorhandig.

“Ongelukkig is daar mense wat nog sukkel om te verstaan dat die verantwoordelikheid by hulself berus om eienaarskap te neem van die huise en die instandhouding daarvan.”

Oor inwoners se klagtes oor ’n gebrek aan straatligte het Marx gesê daar was aanvanklik straatligte, maar dit is mettertyd gevandaliseer.

Hy het egter benadruk dat daar reeds planne is om alternatiewe beligting vir inwoners se veiligheid aan te bring.

Volgens Marx beplan hulle ook om ’n doeltreffende huiseienaarsvereniging te begin sodat inwoners hul klagtes kan opper.

Hy het wel daarop klem gelê dat dit die samewerking van elke inwoner gaan vereis om die woonbuurt ’n veilige en gesonde omgewing vir almal te maak.

Grobler Loubser, ’n Paarlse regsfirma wat die hervestiging na Vlakkeland Agri Village namens Babylonstoren en ander plase gefasiliteer het, het by navraag gesê die betrokke plaaseienaars het aangedui hulle sal nie kommentaar lewer op die bewerings wat gemaak is nie.

Seraj Johaar, uitvoerende direkteur vir korporatief en beplanning by die Drakenstein-munisipaliteit, het by navraag bevestig dat die munisipaliteit in September 2008 die aansoek vir die ontwikkeling ontvang het en dit toe uiteindelik in Julie 2012 goedgekeur is.

“Die munisipaliteit kan bevestig dat die bouplanne nagegaan is en dat dit in ooreenstemming met die toepaslike regulasies was voor goedkeuring in terme van die Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde Wet.

“Die munisipaliteit se bou-inspekteurs voer graag inspeksies uit maar dit sluit nie gehaltebeheer van vakmanskap in nie.

“Die Nasionale Huisbouers-Registrasieraad (NHBRC) is die regulerende liggaam wat die belange van huisverbruikers beskerm en verseker dat bouers aan die voorgeskrewe boustandaarde voldoen,” het Johaar verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.