Landbouvrou vir haar werk vereer

Lindie-Alet van Staden van L’Ormarins-landgoed in Franschhoek is as Wes-Kaapse Prestige Landbouwerker van die Jaar aangewys.


Lindie-Alet van Staden van L’Ormarins-landgoed in Franschhoek is as Wes-Kaapse Prestige Landbouwerker van die Jaar aangewys.

Van Staden, tuin- en olyfboordbe­stuur­der by L’Ormarins-wynlandgoed in Franschhoek, is aangewys as die Wes-Kaapse Prestige Landbouwerker van die Jaar 2024. Hierdie gesogte toekenning is toegeken deur die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, wat Van Staden as ’n “waardige wenner” beskryf het.

Meyer het sy gelukwense aan Van Staden oorgedra en gesê: “Ek sien uit na haar inhuldiging as lid van die Wes-Kaapse Prestige Landbouwerkersforum. Met haar leierskapsvaardighede en talentvolle insigte sal sy ’n waardevolle bydrae lewer om die belange van landbouwerkers in ons provinsie te bevorder.”

Die Prestige Landbouwerker-kompetisie, wat die onmisbare rol van landbouwerkers in ons ekonomie en voedselvoorsiening erken, het oor die jare merkwaardige groei getoon.

Wat in 2002 met slegs 36 inskrywings begin het, het hierdie jaar tot 1 233 inskrywings gegroei. Werknemers uit 15 verskillende streke het in 11 verskillende kategorieë meegeding, wat die inklusiewe aard van die kompetisie weerspieël.

Die wenners in die verskillende kategorieë vanjaar sluit die volgende in:

Algemene Werker: Racheline Wilschut (Langeberg Robertson)

Bestuurder: Ernest Vilander (Breedevallei Worcester)

Besproeiingspesialis: Johannes Engelbrecht (Bergrivier Paarl)

Dierproduksie: Edward Saaiman (Sentrale Karoo Nelspoort)

Tegniese Operateur: Magdelena Smit (Witzenberg Ceres)

Maatskaplike Ontwikkeling: Sophia de Bruin (Witzenberg Ceres)

Landbou-verwerking: Christopher Dreyer (Franschhoek)

Administratiewe Personeel: Gertruida Lourens (Bergrivier Paarl)

Voorman / -vrou: Lungelo Ntamone (EGVV Villiersdorp)

Junior Bestuur: Rozé Tailor (Overberg Riviersonderend)

Middelbestuur: Annita Maqashalala (Overberg Riviersonderend)

Beste Potensiaal: Wilfred Fortuin (Franschhoek)

By die aanvaarding van haar toekenning het Van Staden haar dank en toewyding uitgespreek: “Elke dag word ek gemotiveer deur my ongelooflike span en die geleentheid om ’n verskil in my kollegas se lewe te maak. Hierdie toekenning bevestig my verbintenis tot uitnemendheid en om die toekoms van landbou in ons gemeenskap te bevorder.”

Dr. Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, het gesê: “Die Prestige Landbouwerker-toekennings gaan nie net oor individuele erkenning nie; dit is ook daarop gemik om die beeld en sosiaal-ekonomiese omstandighede van landbouwerkers en hul gesinne te verbeter.

“Hierdie kompetisie bied landbouwerkers nuwe vaardighede, kennis en geleenthede vir loopbaangroei.”

Meyer het benadruk dat die Wes-Kaap die enigste provinsie is wat hierdie soort erkenning aan sy landbouwerkers verleen.

Premier Alan Winde het die seremonie bygewoon en sy waardering uitgespreek vir Van Staden en die Wes-Kaapse landbouwerkers: “Jul bydrae en toewyding aan ons ekonomie is van onskatbare waarde.

“Ons is dankbaar vir die harde werk wat julle lewer om ons voedselvoorsiening te verseker en ons ekonomiese groei te bevorder.”

Meyer het afgesluit met die woorde: “Ons landbouwerkers moet erkenning kry en hul stemme moet gehoor word. Hulle speel ’n deurslaggewende rol in ons Groei vir Werk-strategie (G4J) wat streef om ’n R1 triljoen-ekonomie in die Wes-Kaap teen 2035 te bou.

“Hul kundigheid en toewyding is noodsaaklik om hierdie doelwit te bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.