Vanjaar se staatsrede het by verskeie Suid-Afrikaners groot afwagting gesaai oor presies wát pres. Cyril Ramaphosa gaan sê oor die huidige droewige stand van sake in die land.
Verskeie organisasies, onder andere Agri Wes-Kaap en Agbiz, wat boere en ander landbou-organisasies regoor die Wes-Kaap en Suid-Afrika verteenwoordig het hul mening oor die staatsrede uitgespreek.
Volgens Agri Wes-Kaap is die president se toespraak beloftes wat moeilik sal realiseer.
“Mens kan nie help om die politieke skouspel en beloftes wat gemaak is as ‘n instrument vir opkomende verkiesing te beskou nie,” het Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap in die persverklaring gesê.
“Tog word die erkenning wat daar aan die landbou sektor, en sy bydrae tot die ekonomie en werksgeleenthede gegee is, verwelkom,” het Strydom bygevoeg.
Daar is ’n paar voortslepende uitdagings wat die landbousektor in die gesig staar, naamlik die Eskom-krisis en ander problematiese logistieke infrastruktuur soos Transnet, en Sanral.
“Tydens die staatsrede het President Ramaphosa weereens uitgewys dat daar oor die komende jare addisionele kragopwekkingsprojekte in plek gesit gaan word. Hoewel hierdie voorneme met ’n knippie sout geneem word, is dit tog verblydend om te hoor dat hernubare energieprojekte as ’n prioriteit beskou word. Vir dié projekte om suksesvol te wees, moet die nasionale transmissienetwerk egter aansienlik uitgebrei word. Die voorneme om die transmissienetwerk met 14 000 km uit te brei, word daarom deur Agri Wes-Kaap as positief beskou,” luidens die persverklaring.
“Volgens Ramaphosa het die staat ’n duidelike padkaart om Transnet te transformeer en die logistieke netwerk te hervorm saamgestel. Hoewel Agri Wes-Kaap die staat se vermoë om hierdie padkaart te volg en die planne daarin vervat uit te voer bevraagteken, is daar verskeie aspekte wat as positief beskou word.”
Van die askpekte sluit in om 25 000 km se padinfrastruktuur op te gradeer en 2 000 projekte van stapel te stuur.
“Verder is die internasionale terminaal-operateur se aanstelling by die hawe van Durban ’n stap in die regte riging en hoop Agri Wes-Kaap dat die disfunksionele houerterminaal in die Kaapstadse hawe spoedig sal volg en private operateurs toelaat om toegang tot die netwerk te kry.”
Ramaphosa het ook genoem dat die staat misdaad teenoor hierdie infrastruktuur gaan bekamp, maar dít is moeilik om te glo. het Agri Wes-Kaap gesê.
“Agri Wes-Kaap verwelkom egter steeds die aanstelling van byna 20 000 addisionele polisielede oor die afgelope twee jaar en die voorneme om ’n addisionele 10 000 lede in die komende jaar aan te stel.”
“Hoewel Agri Wes-Kaap van mening is dat behalwe vir die rits verskonings wat daar vir die swak prestasie van die regering gemaak is, die Staatsrede te veel gefokus het op Suid-Afrika se uitdagings en nie genoegsame planne op die tafel gelê het om die uitdagings op te los nie.”
Agbiz is van mening dat die president se toespraak oor die sukses van grondhervorming verfrissend is.
“Alhoewel Agbiz graag wou sien dat stappe geneem is om ons ekonomie te stimuleer, kan waarde van pogings tot grondhervorming nie oorbeklemtoon word nie,” volgens Francois Strydom, Agbiz voorsitter.
“Afgesien van bemoedigende opmerkings oor grondhervorming, het die adres weinig in die pad van beleidsrigting vir die komende jaar verskaf. In plaas daarvan, het die president ’n opdatering verskaf oor ’n aantal prosesse wat aan die gang is. [Agbiz] kan dit in een van twee maniere interpreteer. Aan die een kant was die adres sonder enige nuwe idees om die ekonomie te stimuleer. Aan die ander kant kan daar geargumenteer word dat dit ’n bevestiging was dat die staat nie afwyk nie van verpligtinge wat in die vorige staatsrede bekendgemaak is nie, maar eerder daardie prosesse te laat voortleef,” volgens Agbiz se uitvoerende hoof, Theo Boshoff.
Volgens Netwerk24 is hierdie die nege wegneem-boodskappe van vanjaar se staatsrede:
- Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal voortgaan en sal “geleidelik in werking gestel word.” “Die NGV sal gratis gesondheidsorg by die punt van sorg vir alle Suid-Afrikaners verskaf, by sowel openbare as private gesondheidsorggeriewe.”
- Noodtoelae, wat tydens die Covid-19-pandemie ingestel is sal “verleng en verbeter word as die volgende stap na inkomstesteun vir werkloosheid”. Die toelae is tans R350 per maand en 9 miljoen mense ontvang dit. Meer daaroor sal tydens die begrotingsrede op 21 Februarie gesê word.
- Staatskapers word vervolg, volgens Ramaphosa. “Meer as 200 mense word al vervolg en nog baie ander word ondersoek. Bates ter waarde van R14 miljard is bevries in sake wat met staatskaping verband hou. Opbrengs uit misdaad ter waarde van R8,6 miljard is aan die staat verbeurd verklaar. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het belasting van R4,8 miljard ingevorder danksy getuienis voor die Zondo-kommissie. Siviele sake is deur die Spesiale Ondersoekeenheid aan die gang wat R64 miljard kan invorder,” volgens Netwerk24.
- “Die einde van beurtkrag is binne bereik,” het Ramaphosa gesê.
- ’n Reaksiefonds vir klimaatsverandering word geskep om aardverhitting te bestuur.
- Die hawe- en spoorkrises sal opgelos word deur middel van krisesbestuurs[anne en private operateurs.
- Nuwe visumstelsels is gepubliseer wat dit makliker sal maak om besighede en ander geleerdes na die land te lok.
- Misdaad word bekamp met 10 000 nuwe polisielede wat aangestel is.
- Munisipaliteite wat onder administrasie geplaas is of negatiewe oudits ontvang het, word dopgehou.


