Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse regering het die landbougemeenskap van Wellington tydens die brande van 18 tot 23 Februarie in die steek gelaat.
Die vlamme het 1 630 ha plantegroei en oeste verwoes en groot skade veroorsaak. Boere, werkers en verskeie instansies het gehelp om die brand te bestry, maar geen lugondersteuning is deur die owerhede verskaf nie.
Die bewering dat ’n lugvleuel nie sou kon help nie, is vals. In November 2024 is drie helikopters ontplooi vir ’n brand in Paarlberg, en tans word helikopters op Tafelberg ingespan. Landbouleiers en private instansies het ’n noodfonds gestig om ’n helikopter te bekom, terwyl ’n private maatskappy sy vliegtuig op eie koste beskikbaar gestel het. Die VF Plus bedank alle brandslaners en die gemeenskap vir hul pogings om die brand in sulke omstandighede te blus.