Verligting wink weer vir die verbuiker met die petrolprys wat waarskynlik volgende week vir die derde opeenvolgende maand sal daal – en wéér met R1 of meer.

Dit volg ná die daling van R1,32 per liter in Augustus en van R2,04 per liter in September.

Vroeër vandeesweek was daar ’n oorverhaling van R1,11 per liter op die prys van 95-oktaan-petrol en van 99c per liter op 93-oktaan.

Maar vir mense met dieselvoertuie en veral boere lyk die vooruitsig steeds droewig, met die prys van diesel wat gaan styg, hoewel met minder as 20c p/l.

Vir diesel is daar ’n onderver­haling van 12c per liter vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% en van 17c per liter op 0,005%.

Die prys van diesel het ook ’n invloed op vervoerkoste en dus op die prys van die meeste verbruikersgoedere, insluitend dié van kos en kruideniersware, aangesien Suid-Afrika op padvervoer staatmaak.

Die enigste manier waarop die prys van diesel sal kan daal, is as die balansfondsheffing, wat op die oomblik 83,28c per liter is, verminder word.

Die kans daarvoor is egter skraal gegewe dat die balansfonds einde Augustus nog R13,158 miljard in die rooi was.

Ingevolge nuwe reëls vir die balansfonds, wat vroeër die maand aangekondig is, sal die balansfondsheffing wegval indien die fonds sterker is as -R500 miljoen. Dit was vroeër -R250 miljoen.

Die groter oortrokke bedrag is ingestel weens die huidige wisselvalligheid van internasionale brandstofpryse.

Die balansfondsheffing gaan nie na die staat nie, maar na brandstofmaatskappye. Dit word gebruik om hulle te vergoed wanneer die prys van brandstof, wat hulle aankoop deur die loop van die maand styg nadat die prys wat hulle daarvoor mag vra, reeds gereguleer is.

Ondanks die derde daling in die petrolprys wat verwag word, sal petrol steeds meer as R4 per liter duurder wees as ’n jaar gelede weens opeenvolgende groot stygings die afgelope jaar.

Diesel is reeds meer as R8 per liter duurder as ’n jaar gelede.

Die 95-oktaan-petrol kos op die oomblik R23,38 per liter in Gauteng en R22,73 per liter aan die kus.

Die groothandelprys van diesel met 0,05% swael is R23,96 per liter in Gauteng en R23,31 aan die kus.

You need to be Logged In to leave a comment.