Ons almal het al foute gemaak – ook beleggingsfoute. As jy dalk ’n groot bedrag geld in ’n spesifieke geleentheid belê het en iets gaan verkeerd, kan die fout jou baie duur te staan kom.
Beleggers wat voor 2017 direk in Steinhoff belê het, het die afgelope paar weke terugbetalings ontvang. Dit was slegs ’n breukdeel van wat hulle belê het. Hulle het baie geld verloor en die uiteinde was pynlik.
So, hoe gaan jy dit verhoed dat jy ’n beleggingsbesluit verkeerd kry? Néé, jy gaan nie. Jy gaan foute maak.
Jy kan doodseker van jou saak wees en dan gebeur dit dat Des van Rooyen uit die bloute as minister van finansies aangestel word en die rand oornag skerp verswak, of dat Hamas vir Israel binneval en die olieprys onverwags styg.
Wat kan jy doen om seker te maak dat jy nie onkant gevang word deur ’n swart-swaan-gebeurtenis nie?
In die konteks van finansies, ekonomie of risikobestuur verwys ’n swart-swaan-gebeurtenis na ’n onvoorspelbare gebeurtenis wat verder gaan as wat normaalweg verwag word en ernstige gevolge het. Hierdie gebeure is buitengewoon, moeilik om te voorspel en het ’n beduidende invloed op die finansiële markte, ekonomieë of die samelewing in die geheel.
Voorbeelde van swart-swaan-gebeure in die geskiedenis sluit in die dot.com-borrel van 2001, die finansiële krisis van 2008 en die 9/11-terreuraanvalle. In Suid-Afrika was die Des van Rooyen-aanstelling ’n swart-swaan-gebeurtenis en so ook die covid-inperkingsmaatreëls wat ons ekonomie baie seergemaak het. Hierdie gebeure was onvoorsien, het ’n diepgaande uitwerking gehad en het die beperkings van tradisionele risiko-assesseringsmodelle en -strategieë uitgelig.
Ons moet dus in ons beleggingstrategie ruimte vir foute toelaat deur ’n veiligheidsmarge in ons beleggingsbeplanning in te bou. Dit sal ’n veiligheidsnet bied teen onder meer mark-onbestendigheid en onvoorsiene uitdagings.
As jy ruimte vir foute laat, sal jy baie versigtiger te werk gaan wanneer jy beleggings doen.
Gegewe die erkenning dat ons vir die moontlikheid van foute voorsiening moet maak, sê Mohamed El-Erian, een van die wêreld se bekendste ekonome, dat beleggers ’n paar goed benodig om suksesvol te belê:
“Veerkragtigheid, wat beteken dat jy ’n fout kan absorbeer – alternatiewelik gestel, ’n oop gemoed. Jy moet erken dat daar sekere dinge is wat jy nie weet nie. Jy moet anders kan dink. Jy moet die vermoë hê om vinnig te beweeg. Almal moet hulself elke dag afvra: Hoe veerkragtig is ek en wat is my keuse? Hoe ervare is ek in die samestelling van my beleggings?”
Diversifikasie sal ook ’n belangrike rol speel om juis die maak van ’n fout te versag.
Diversifikasie in beleggings is ’n risikobestuurstrategie wat behels dat jy jou beleggings oor ’n verskeidenheid bates of bateklasse versprei om sodoende blootstelling aan enige enkele belegging of risiko te verminder. Die hoofdoel van diversifikasie is om ’n meer stabiele en potensieel hoër algehele opbrengs op jou beleggingsportefeulje te behaal, terwyl die risiko van aansienlike verliese of dan foute tot die minimum beperk word.
Ek het al met mense te doen gehad wat ’n sekere inkomste in aftrede benodig en die inkomste kan haal net as markte aanhou styg en nooit daal nie. Dan tree die persoon af en om welke rede is daar ’n onverwagse 20%-daling in markte en is sy aftrede in gedrang.
Ons moet dan allerhande kunsgrepe uithaal om so iemand se aftrede te red. Dalk moes so iemand daaraan gedink het dat markte gereeld daal en nie daardeur verras word nie en berekenings doen asof dit kan gebeur.
Morgan Housel sê in sy boek The Psychology of Money dat baie min finansiële planne wat net vir bekende risiko’s voorsiening maak, genoeg van ’n veiligheidsmarge in het om in die werklike wêreld te oorleef. Dalk is dit ’n genoegsame veiligheidsmarge as jy jou verwagte opbrengste uit ’n belegging inkort (met byvoorbeeld 2% per jaar) en dan na bo verras word eerder as om andersom geskok te word.
Ter wille van ons eie gemoedsrus moet ons ruimte vir foute laat, ons beleggings diversifiseer, die markomgewing goed genoeg ken om te weet dat daar altyd wisselvalligheid is en dat swart-swaan-gebeurtenisse gereeld voorkom.. Dawie Klopper is ’n beleggingsekonoom by PSG Wealth. Kontak hom by dawie.klopper@psg.co.za.