Hoewel die hooggeregshof onlangs ten gunste van die La Motte-rugby-klub beslis het ná sy versoek om van die WP-rugbyunie weg te breek, is die stryd vir hierdie klub se lidmaatskap nog nie verby nie nadat die Boland-rugbyunie (BRU) ‘n spesiale algemene vergadering belê het waarop hy glo sy 2024-besluit om affiliasie aan La Motte toe te staan, sal “hersien”.

Die vergadering word Saterdag (31 Mei) gehou.

Die hooggeregshof het op 6 Mei ‘n dringende aansoek deur La Motte teen die Westelike Provinsie-rugbyunie aangehoor, wie se argument was dat die BRU nie die reg gehad het om La Motte se affiliasie-aansoek te aanvaar nie aangesien die klub binne die WP se grense val.

LEES: La Motte wen affiliasie-stryd, hof sê hulle mág by BRU aansluit

Die hof het beslis dat La Motte nou in die BRU se Gemeenskapskild-kompetisie ingesluit mag word.

Die BRU het op 30 November verlede jaar op ‘n jaarvergadering La Motte se aansoek om affiliasie aanvaar.

Netwerk24 het egter verlede week berig dat Attie Heyns, die BRU se regsverteenwoordiger, daarop gewys het dat die besluit van November verlede jaar teen die unie se grondwet indruis.

Wat volgens Heyns nie ten tyde van die besluit in gedagte gehou is nie, is ‘n ooreenkoms tussen die BRU, WPRU en SWD in 2013 – dat ‘n klub nie tussen twee unies mag skuif sonder dat dit albei betrokkenes se goedkeuring wegdra nie.

Dit was om potensiële probleme rakende die oorvleueling van rugbygrense uit te skakel.

Heyns sê dat die BRU “ten volle” aan die hofbevel gehoor gee. “Die BRU vervul sy fidusiêre plig deur dit weer voor die algemene vergadering te plaas,” het hy gesê.

Paarl Post het vroeër berig dat La Motte nog altyd volgehou het hy was nooit ‘n amptelike filiaal van die WP-rugbyunie nie, maar is bloot toegelaat om aan WP-kompetisies deel te neem.

Die WP-administrasie se argument was dat die BRU nie die reg gehad het om La Motte se affiliasie-aansoek te aanvaar nie aangesien die klub binne die WP se grense val.

La Motte het egter daarop gewys dat die BRU reeds klubs soos Dennegeur en Lanquedoc All Stars asook klubs in die Drakenstein- en Stellenbosch-munisipale gebiede as lede het.

Volgens La Motte was daar geen geldige redes, behalwe die beweerde grens-oorskryding, wat hul affiliasie met die BRU kon verhoed nie.

Dit blyk egter nou asof politieke geskille onder die onderskeie unies – en dalk selfs die BRU self – ‘n onsekere toekoms skets wat La Motte se lidmaatskap betref.

La Motte was vir ‘n jaar (tussen 2007-2008) by die BRU geaffilieer en het in 2009 by die WP-rugbyunie aangesluit.

Ná etlike jare se oproepe deur die Franschhoekse rugbygemeenskap vir die klub om van die WP weg te breek, het dié proses vroeg verlede jaar begin.

Dr. Harlan Cloete, ‘n plaaslike uitsaaier en een van die stigterslede van KC 107.7, het vandeesweek gesê soos sake tans staan, is dit slegs die BRU wat hom in die regsarena bevind.

“Dit is slegs die BRU wat regsverontagsaming in die gesig staar, aangesien die WP-rugbyunie ten volle aan die hooggeregshofbevel voldoen en La Motte ‘laat gaan’ het.

“La Motte se hof-oorwinning sal egter van korte duur wees as die klubs wat onder die BRU speel, toelaat dat hulle gebruik word om die BRU te dwing om voor die WP te buig asof die BRU slegs ‘n filiaal van WP is.

“Die hofbevel is reeds die afgelope naweek verontagsaam toe La Motte, [na bewering] in opdrag van Kobus Vergotine, nie toegelaat is om met ‘n vriendskaplike wedstryd voort te gaan nie. Volgens hom [Vergotine] moet La Motte se lidmaatskap eers op die beplande BRU-vergadering bespreek word,” het Cloete gesê.

Dennis Boonzaaier, La Motte se voorsitter, het verlede week gesê die klub sal na die hof terugkeer indien nou besluit word dat hy nié lid van die BRU mag wees nie.

You need to be Logged In to leave a comment.