Die Bolandse dorp Paarl vier lente met die terugkeer van die jaarlikse Waterblommetjiefees hierdie Saterdag (2 September) van 09:00-16:00.
Windmeul Kelder en Rhebokskloof, gerieflik minder as 5 km uitmekaar geleë, het kragte saamgesnoer om hierdie inheemse, seisoenale lekkerny ten toon te stel en ’n prettige fees vir die hele gesin te bied.
Die waterblommetjie is een van Suid-Afrika se bekendste eetbare plante met ’n lang geskiedenis van gebruik deur die inheemse Khoikhoi – medisinaal sowel as ’n voedsame voedsel.
Feesganger sal waterblommetjies, wat slegs vir ’n kort tydperk elke jaar gedurende die laat winter en vroeë lente beskikbaar is, op ’n verskeidenheid maniere tydens ’n dag vol pret kan proe.
Toegang tot die fees is gratis, maar besoekers word wel gevra om een of meer blikkieskos per persoon as “toegangsfooi” te skenk. Die blikkies sal ná die fees aan die amptelike feesliefdadigheidsorganisasie, Athlone House of Strength, ’n skuiling vir mishandelde vroue en kinders in die Paarl, geskenk word.
Heerlike waterblommetjiesgeregte en bekroonde wyne asook vermaak in lewende lywe is by Rhebokskloof op die program. Hierdie gesinsvriendelike bestemming met sy weelderige grasperke en pragtige uitsigte is ideaal vir gesinne en bied talle aktiwiteite vir die jongspan – en dit terwyl die grootmense ’n verskeidenheid waterblommetjiesgeregte en ’n glas wyn kan geniet.
Windmeul gaan sy gebruiklike potjiekoskompetisie aanbied met groot pryse op die spel in die tradisionele en nie-tradisionele afdelings, asook vir die beste stalletjie.
Die fees val saam met die maandelikse Windmeul-boeremark, waar besoekers vars plaaslike produkte – juis produkte soos plaaslike waterblommetjies – asook talle ander Bolandse varsprodukte kan koop.
’n Spesiale Windmeul-waterblommetjies- en wynparingsessie sal aangebied word met Windmeul se keldermeester, Danie Marais, se oorspronklike waterblommetjiesresep. ’n Veilige speelgebied is vir jonger besoekers beskikbaar.
Musiek in lewende lywe word deur Ruan Theron en Wynand Windpomp aangebied.
Buitelug-entoesiaste kan die dag begin met die Run the Vines-roete by Windmeul, voordat hulle later heerlike waterblommetjies en wyn geniet. Afstande sluit ’n 3 km-roete vir juniors in, sowel as 5 km, 10 km en 17 km, met wegspringtye tussen 08:00 en 08:45. Inskrywings wissel tussen R80 en R180 na gelang van die afstande, en kan aanlyn gedoen word (https://entries.onsite-events.co.za/).
Elke deelnemer wat sy of haar roete voltooi, kry ’n medalje.
Besoek www.waterblommetjiefees.com of @WaterblommetjieFees op facebook vir nog inligting.