Ek voel vanoggend soos die spreekwoordelike seuntjie wat die kaal keiser gadeslaan in die Paarl. Dit selfs nadat ek my pa se goeie raad gevolg het deur ’n dag te wag vir die emosies om te kalmeer.

U sien, gister is my skoonsuster se matriekdogter tydens ’n eksamenpouse in die Arboretum deur ’n straatslaper met ’n mes beroof. Genadiglik het die Here haar bewaar van fisieke geweld.

Wat my pla is dat ek eintlik baie hou van die keiser wat voor my paradeer sonder ’n stukkie skaamte oor ons dorp se gebrekkige veiligheid. Sien, my keiser hier is die Drakenstein-munisipaliteit. “Recently crowned top Western Cape secondary city in the latest Good Governance Africa rankings”.

Ek glo nie aan kla nie, maar ek is ook moeg anderpad kyk net omdat ander plekke dit erger het. Tel daarom eers saam met my ons ongelooflike seëninge in die Paarl gelewer deur die munisipaliteit, voordat ek my pleidooi lewer: ongelooflike dienslewering, skoon oudits, infrastruktuur wat in stand gehou word, goeie korporatiewe bestuur en letterlik ’n honderd dinge beter en meer as wat enige dorp in Noord-Wes, die Vrystaat of Mpumalanga geniet.

Maar daar is deesdae ’n neiging wat my dwars in die krop steek en dit is ons gemeenskappe se verslae gelatenheid om ons koppe weg te draai van ’n keiser se onberispelike naaktheid, bloot omdat ons keiser nie paradeer sonder klere, maar met ’n klomp bling soos in Gauteng nie.

Dink net hoe vinnig ons gemaklik geraak het met die “kunstige” beligting soos dit skyn op Phala-Phala . . . net omdat ons nie vir Ace onbeskaamd geposeer wil sien op Rapport se voorblad nie.

Tot sy verdediging is Drakenstein se spesifieke naaktheid nie oorspronklik sy skuld nie. Ná die lockdowns is ons munisipaliteit se “skoon-straat-speedo” soos meeste dorpe s’n saam weg met die uitgaande gety van die pandemie.

Toenemende straatslapers, bosslapers en mense wat skuilings op sypaadjies en openbare plekke oprig, het dorpe en stede se nuwe epidemie geword. Let wel dit is ’n instinktiewe fout om dadelik te dink die polisie is hier die kaalnaeler. Ons praat hier van oortredings van munisipale verordeninge voordat dit lei tot roof, huisbraak en ander strafregtelike oortredings. Min mense besef die munisipaliteit het sy eie waghond, wetstoepassers, om oortredings in die eerste instansie te polisieer.

Hier is my pleidooi. Die demokraties verkose munisipaliteit is verantwoordelik om sy begroting met betrekking tot wetstoepassing aan te pas om by die behoeftes van sy mense en sy dorp te pas. Ek is van die mening dat die keiser ’n paar danspassies te stadig was om die huidige probleem vroegtydig te antisipeer en op te los.

Daar is niemand wat die tragedie van ’n verarmende gemeenskap kan miskyk nie. Maar die munisipaliteit kan nie net sy rug keer op die skep van ’n omgewing wat noodgedwonge lei tot misdaad nie. Desperate mense wat geduld word om in desperate omstandighede op onwettige plekke te bly kweek desperate mense wat desperate stappe neem om aan te hou oorleef in desperate omgewings.

My verduideliking oorvereenvoudig die saak vir seker, maar hopelik sit dit ’n bril op die oë van die publiek wat sien hoe ons dorp voor ons oë gevaarliker raak vir ons kinders wat loop van die skole af in ons strate, ons vroue wat in elke parkeergebied geteister word deur bedelaars met ’n nuwe militante desperaatheid in hul oë en gedrag, drawwers en fietsryers wat katvoet moet loop of ry in die Arboretum en bergpaadjies teen ’n nuwe vlaag van wegkruipers, ou mense wat geïntimideer word deur halfnaak geestesversteurde mense wat op hulle toesak helder oor­dag vanuit hul rusplekke op sypaadjies.

Ek praat nie hier van die vlaag van inbrake in huise en motors en ander misdade wat wel die verantwoordelikheid van die polisie is nie, maar meesal ’n simptoom is van ’n ongereguleerde omgewing. Ons moet onthou die inwoners stem nie die polisie in nie en bepaal nie hul begroting m.b.t. die aantal beamptes wat diens doen en die aantal voertuie tot hul beskikking nie.

Die inwoners van ons dorp is egter direk verantwoordelik vir die instem van die munisipaliteit se bestuur en die finansiering van hul begroting. Hierdie keiser is direk verantwoordbaar aan die inwoners vir hoe hulle die begroting op bv. wetstoepassing bestee.

Daarom die ope vraag in my ope brief: Hoeveel wetstoepassingsvoertuie patrolleer die dorp? – is daar werklik net twee voertuie tussen Simondium en Saron? Hoeveel wetstoepassings­beamptes is daar en het almal ’n veiligheidsagtergrond braaf genoeg en bevoeg genoeg vir die situasie in ons strate?

Ongelukkig het wetstoepassers wat wel opgedaag het by gister se insident “gewag op instruksies” terwyl hulle gemaklik was om die familie van die matriekmeisie die misdadiger te laat jaag saam met Vetus Schola en Wolf. Dankie aan hierdie twee veiligheidsmaatskappye wat gehelp het om die misdadiger aan die pen te laat ry.

Geagte keiser van die Paarl. Tye het verander en prioriteite en begrotingstoekennings moet verander. Ongelukkig is baie Paarliete se ervaring dat wetstoepassers tans wegkruip agter die polisie wie se nasionale probleme hul vlerkies reeds kortknip. Keiser, ongeag al jou goeie dade is dit tyd dat jy noukeurig in die spieël kyk en jou ou skaamte besef wanneer dit by wetstoepassing kom. Tel asb. jou mantel van sekuriteit op, maak seker jy het meer mense, meer sigbaarheid, meer durf en doen wat die polisie nie ’n mandaat voor het nie, polisieer die munisipale ordonnansies en hou ons strate en parke skoon.

Vandag se straatslaper word môre se rower. Môre se rower raak oormôre se verkragter.

Die keiser kan hierdie patroon voltooi as hy hand in eie boesem steek.

You need to be Logged In to leave a comment.