Ek dink nog al die jare ek is baie geduldiger as die gemiddelde mens. Rêrig gedink ek ewenaar Job, veral wanneer ek in ’n lang tou moet wag. Ook gedink ek is super-verdraagsaam teenoor hulle wie se optrede en uitlatings ander se bloed blitsig by kookpunt kry. Dink nou ook daaraan dat dit nie die enigste voortreflikhede in my mondering is nie. Ek het ’n positiewe lewensuitkyk van my pa geërf. Hy was altyd onversteurbaar onder die uitdagendste omstandighede.

By die draai van 2022 ontdek ek toe dat daai voortreflikhede ’n vervaldatum gehad het. Of was dit dalk net ’n tydelike onderbreking in die toevoerlyn na my innerlike mens? Of is die eintlike probleem die feit dat ek gedink het ek beskik daaroor? Het Dries mos gesê: “Vroutjie, jou probleem is, jy behoort nie te dink nie.”

Die besef kom toe presies op ’n tyd wat ek rêrig niks ekstra nodig het by die spul twak wat ek weke lank so goed hanteer vanweë my geduldige verdraagsaamheid en positiwiteit nie. Dit nogal by my bank in die lang tou.

Daar wag ’n mens soos sirkusolifante op ’n ronde stoeltjie-ding en die gesit-wagtery is vir verskeie redes problematies. Die sitgoed het nie rug- of armleunings nie en is vir optimale ruimtebenutting ook nie prakties nie, weens die omtrek van sommige kliënte. Dis ongemaklik vir die sitter, sleg vir die stoeltjie en maskervry gevaarlik ook, want hoesendes en niesendes probeer nie die ontsnapte kieme per hand of sakdoek opvang nie. Verderaan is daar geen lewende siel in sig behalwe ons klomp nie. Nie eens ’n teller nie.

Ná ’n lang tyd – of dalk was dit kort, maar lank vir my omdat my lang geduld toe lankal tekort skiet – begin ek hulp soek iewers in die binneste van die ultra moderne uitleg van die bank. Dis ook nie stimulerend vir my goeie eienskappe wat ek toe hoeka nie meer het nie. Daar is géén aanduiding vir byvoorbeeld navrae en kliëntediens en diesulkes nie.

Ek is oortuig daar is eenrigting-deursigtige mure, want skielik verskyn ’n vrou van iewers en op my vraag of sy ons asseblief kan help sê sy: “Ja sekerlik, Tannie. Gaan sit net daar, dit is die regte plek om te wees.”

Goeie Hemel! Haar hulp is toe om presies dit vir die ander sittendes ook aan te sê voordat sy weer in die labirint verdwyn. Ons almal is ewe verbyster en drie kliënte loop uit. Hulle is dik vies, maar swyg.

Ek doen niks van dit nie. Of my aura of aroma of wat ook al dit laat verskyn, ’n lang, dun en bot man van iewers kom hy staan net daar. Op my vraag of hy my kan help, reageer hy nie. Vir seker verkeerde vraag en met my “Sal u my asseblief help?” stap hy na sy versteekte vesting en wys na ’n stoel. Ek gaan sit dadelik, want duidelik is dit die regte plek om te wees.

Die arme man is toe op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Uiters ordentlik, glo my, takel ek hom asof hy solely verantwoordelik is vir die swak diens van die bank asook die hopelose sekuriteitswag by die OTM en vir die gemors waarin ons land is en die spul lae karakters waarmee ons die suurstof en ons belastinggeld moet deel asook die wetterse Zuma wat alweer ’n nuwe truuk bedink om vry te kom, en nog meer. Hy luister aandagtig en sy rustige “Mevrou het ’n punt” is toe die Bybelse vurige kole op my hoof.

Tussendeur die wag vir die gevrekte rekenaar en terugbel van die nie-slim een iewers aan die ander kant van die foon, wat nie verstaan wat die probleem is waarmee hy moet help nie, vind ons twee gemeenskaplike grond. Hy kla nie. Hy is nuut hier en dankbaar oor die permanente pos ná jare van oral aflos. Die pendelary van die Paarl is moeilik met taxi’s wat staak. Brandstof, elektrisiteit en kos is duur en mevrou, hulle wat daar bo sit, voel niks daarvan nie.

Ek is jammer vir hom, maar het nie ’n trooswoord nie, want dis alles waar en daar is nog hope ongenoemde morsighede. Hy is dieselfde ouderdomsgleuf as my vier werkende kleinkinders en dis hoedat dit vir ons jeug voel wat lief is vir die land en kies om hul deel hier te doen. Ek krap rond in my kop, maar daar’s niks en my eens oorywerige tong roer nie.

Toe ek hom groet met ’n dankie vir sy vriendelike en kundige hulp en goeie wense vir sy werk, sê hy “Mevrou, ons bid net en goed sal verander en dit sal beter word in die land en hoe lekker, ons is twee van die 44 wat dit in Afrikaans kan doen!”

Die olifant-stoeltjie-sittery was die regte plek om te wees, want hoe anders sou ek die mooi hart van baie van ons jeug te sien gekry het? Mag ek hier sê “Shalom” vir almal wat saam met hom glo?

You need to be Logged In to leave a comment.