As dit kom by die bestuur van beleggings, is daar verskeie aspekte wat binne beleggers se beheer is, en sommige wat buite hul beheer is. Die beweging van die mark oor die korttermyn is iets wat buite ons beheer is. Soos ons tot dusver vanjaar gesien het, kan markte in die korttermyn erg wisselvallig wees, maar indien ons vir die lang termyn belê, sal ons hiervoor beloon word.
Een ding wat wel direk binne ons beheer is, is die koste wat op ons beleggings betaal word. Die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa) het ’n paar jaar gelede wetgewing aangekondig wat ’n eenvormige standaard stel van hoe koste aan beleggers deurgegee moet word. Hierdie standaard staan bekend as die Effektiewe Jaarlikse Koste (EJK). Vier soorte kostes moet onderskei word – adviseurskoste, beleggingskoste, administrasiekoste en ander.
Adviseurskoste is aan die adviseur betaalbaar vir die raadgewende dienste wat hy of sy lewer. Dit is gewoonlik ’n onderhandelbare fooi wat betaal word vir die werk wat die adviseur doen. Een van die adviseur se grootste take, as dit by beleggings kom, is om die kliënt se risikoprofiel te bepaal en dan ’n kombinasie van beleggings voor te stel wat in ooreenstemming hiermee is.
Administrasiekoste is betaalbaar aan die platform waar die beleggings plaasvind. Party platforms vra ’n vaste fooi, ongeag hoe groot die belegging is, terwyl ander op ’n glyskaal werk.
Laastens kom ons by beleggingskoste. Dit is die fooi wat ’n batebestuurder vir die bestuur van die onderliggende beleggings hef. In die meeste gevalle sal ’n goeie raadgewer ’n belegging tussen ’n paar fondse diversifiseer. Die gesamentlike beleggingskoste sal dan die geweegde gemiddelde van hierdie fooie wees.
As ons hierdie vier fooie bymekaartel, gee dit ons die EJK van die belegging.
Dit is altyd vir my skokkend om portefeuljes teë te kom waar die fooie astronomies hoog is. In die meeste gevalle is die kliënte salig onbewus hiervan. Ek het al gesien hoe die totale EJK van ’n portefeulje tot 5% kan wees.
Ons by PSG is in die gelukkige posisie dat ons toegang het tot ’n wye verskeidenheid platforms en fondse, wat beteken dat ons ’n verskeidenheid fooistrukture kan ondersoek. In sommige gevalle kon ons bloot met ’n verandering van platform vir kliënte tot 0,3% op hul huidige belegging bespaar, sonder dat die onderliggende beleggings veel verander moes word.
’n Koers van 0,3% klink dalk nie baie nie, maar op ’n belegging van R1 miljoen beloop só ’n besparing R3 000 per jaar. As die belegging ’n reële opbrengs van 3% per jaar verdien, beloop hierdie besparing oor ’n 10-jaar-tydperk ongeveer R38 000.
Die meeste beleggers fokus so sterk op opbrengste dat hulle vergeet om na hul fooie te kyk. Dit kan ’n portefeulje maak of breek. . H.W. de Jager, CFA®, is ’n finansiële raadgewer van PSG Wealth Cecilia Square, Paarl. Hy kan gekontak word by HW.deJager@psg.co.za
Die inligting in hierdie dokument is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) LTD is gemagtigde finansiële diensverskaffers. FDV 728


