Die raaiselagtige moord waarin Karmen Malan (65) op 21 Januarie 2023 in die vroëe oggendure in Joubertstraat in die Paarl vermoor is, bly onopgelos met die moordverdagte wat steeds vrylik rondloop.

Volgens kapt. Louise du Plessis, ‘n woordvoerder van die Paarl-polisie, is die saak tans by die Nasionale Vervolgingsgesag (NPA) waar dit verder ondersoek word.

Malan se lyk is op 21 Januarie omstreeks 21:30 deur familielede in ‘n slaapkamer aangetref te midde van ‘n soektog nadat haar tuinwerker haar vroeër die dag nie in die hande kon kry nie.

Dit was ‘n uiters bebloede toneel en sy het ‘n oop kopwond asook ‘n wond onder haar linkeroog gehad. Malan se beursie is leeg naby haar lyk aangetref, terwyl haar handsak oop gelê het en alles in die huis omgedolwe was. ‘n Onbekende hoeveelheid juweliersware en haar selfoon is ook gesteel.

Aangesien daar geen teken van ‘n inbraak was nie, word daar vermoed dat die moordenaar toegang deur Malan se tuinhekkie gekry het, waarna hy deur ‘n oop slaapkamervenster geklim het.

Volgens berigte blyk dit sy het nie haar aanvaller geken nie.

Volgens ‘n familielid, wat verkies om anoniem te bly, het forensiese ondersoeke nie veel leidrade opgelewer nie en is geen DNS van die moordenaar op die toneel gevind nie.

Die bron het verduidelik dat die polisie sowat ‘n maand of twee gelede ‘n verklaring van Malan se susterskind geneem, wat saam met haar man op haar lyk afgekom het.

Die verklaring van Malan se susterskind se man is nog nie aangevra nie, wat volgens die anonieme familielid ‘n aanduiding kan wees van die pas waarteen die ondersoek verloop.

Tans hoop die familie om selfoonseine van nabye selfoontorings op te spoor, wat hopelik duidelikheid kan gee oor waar Malan se gesteelde selfoon ná haar moord gebruik is.

Volgens die anonieme bron is die familie egter nie optimisties oor die kanse van ‘n suksesvolle skuldigbevinding nie.

Die enigste bewysstukke wat ‘n bietjie hoop verskaf, is die beeldmateriaal van veiligheidskameras naby Joubertstraat, wat ‘n man vroeg die Saterdagoggend afneem.

Kringtelevisie het die man, geklee in ‘n donkerblou broek en hemp met ligkleurige skoene en wit veters wat om 03:20 op 21 Januarie 2023 in Oranjestraat afgeloop het – ‘n klipgooi van Joubertstraat af – vasgevang.

‘n Sekuriteitskamera het die vermeende verdagte in Oranjestraat afgeneem. Skermgreep: Verskaf

Sowat 10 minute later het ‘n ander kamera die verdagte in Victoriastraat afgeneem waar dit gelyk het asof hy ‘n lang voorwerp, vermoedelik ‘n hamer, onder sy regterarm dra en in die rigting van Jouberstraat stap.

Hier loop die verdagte man in Victoriastraat met ‘n lang voorwerp onder sy regterarm, vermoedelik ‘n hammer. Skermgreep: Verskaf

Die volgende kamera het hom om 04:08 gewaar waar hy by Jouberstraat om die hoek loer en dan na Kloofstraat hardloop. Hier het hy ‘n klein pakkie by hom gehad sonder die lang voorwerp wat hy vroeër gedra het.

Malan is dus waarskynlik tussen 03:30 en 04:08 vermoor met die hamer wat die verdagte man op die beeld onder sy arm gedra het.

Volgens vorige berigte het die polisie bevind dat die hamer se voorste gedeelte gebruik kon word om Malan onder die linker-oog te slaan, en die agterkant, waarmee spykers uitgetrek word, om haar teen die kop te kap.

Beeldmateriaal van die verdagte man waar hy by Jouberstraat om die hoek loer en dan na Kloofstraat hardloop met ‘n klein pakkie wat hy vashou. Video: Verskaf

Dit kon die bloedspatsels teen die mure, op die vloer en beddegoed verduidelik. Die laaste kamera het die man naby Game in Fabriekstraat afgeneem waar hy ‘n ander hemp aangehad het.

Malan was ‘n kankeroorwinnaar en ‘n voormalige diplomaat wat in lande soos Amerika, Botswana en België gewerk het.

Sy het vyf jaar voor haar moord van Pretoria na die Paarl getrek.

You need to be Logged In to leave a comment.